Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pandemie stuit kontrabasspeler nie om 3 CD’s op te neem
Leon Bosch Foto: Verskaf

Leon Bosch is soos ’n losgelate dier en is sedert sy uittrede aan die einde van 2014 as leierkontrabasspeler uit die Londense orkes Academy of St. Martin in the Fields besiger as ooit tevore.

Een van die talle bedrywighede van dié Suid-Afrikaans gebore musikus is om CD’s op te neem. Teen Desember sal hy ’n stapel van 16 CD’s op sy kerfstok hê, waarvan drie vanjaar verskyn het.

Nie eens die koronaviruspandemie kon hom keer nie.

The South African Double Bass, sy tweede CD vanjaar, is die eerste wat ten volle aan die werke van Suid-Afrikaanse komponiste gewy is.

“Die gedagte agter die CD is nie net om nóg ’n album op te neem nie. Dit is om soveel as moontlik opdragwerke van goeie komponiste te kry sodat toekomstige kontrabasspelers ’n groot repertorium het om van te kies. Ek het die afgelope vier jaar 40 Suid-Afrikaanse komponiste vir kontrabaswerke gevra, en nege daarvan is op die CD, stukke waarby ek tans die sterkste aanklank vind.

The South African Double Bass is net die begin, al die ander werke sal ook nog opgeneem word,” belowe hy.

Bosch het as bruin man in die apartheidsera in die Kaap fisieke en sielkundige letsels opgedoen en na Londen uitgewyk, waar hy sedert die 1980’s woon.

Sy loopbaan het daar tot dié van ’n internasionaal bekende kontrabasvirtuoos gedy. Hy is deesdae ook ’n dirigent en deurkruis steeds die wêreld vir optredes.

“Ek sou in Mei vanjaar in Suid-Afrika uitvoerings gegee het, wat uiteraard weens die pandemie in die slag gebly het. Dit sal beslis nog plaasvind sodra die onsekerheid oor die inperkings verby is.

Rebeca Omordia Foto: rebecaomordia.com

Op die jongste CD staan die Roemeense pianis Rebeca Omordia hom by. Sy het ’n Roemeense ma en ’n Nigeriese pa, en het in Roemenië grootgeword het, waar sy ’n doktorsgraad aan die Nasionale Universiteit van Boekarest verwerf het.

Omordia het in Brittanje aan die Royal Birmingham Conservatoire en Trinity College of Music in Londen studeer, en tree gereeld saam met verskeie internasionale musici, onder wie die tjelliste Julian Lloyd Webber, Raphael Wallfisch en Joseph Spooner op.

Bosch het van haar kennis geneem toe sy jare lange duo-vennoot, Sung-Suk Kang, nie meer geredelik beskikbaar was nie.

“Ek het Rebeca huis toe genooi en ons het deur verskeie werke gespeel om seker te maak ons vul mekaar goed aan. Daarna het ek haar optredes dopgehou, waarin sy my al hoe meer beïndruk het. Sy is ’n uitstekende pianis.”

Bosch het voorheen CD’s opgeneem wat gewy is aan die musiek van onder andere Britse, Russiese en Hongaarse komponiste en die Spaanse virtuose Pedro Valls en Josep Cervera.

“Op ’n dag het ek besef ek het nie ’n enkele Suid-Afrikaanse werk in my repertorium nie, en kon ook niks vir spesifiek kontrabas opspoor nie. Ek het besef ek sal hierdie saak self moet aanpak en het komponiste geoormerk wat ek toe vir werke gevra het.

“Dat agt van die werke op die eerste Suid-Afrikaanse CD vir kontrabas en klavier is, is toevallig. Ek gee komponiste vrye teuels en het reeds ook musiek in kombinasie met ander instrumente gekry, asook concerto’s wat ek reeds uitgevoer het.”

Dit sluit in Shane Woodborne se Red Ink wat Bosch op die Diabelli-fees in Salzburg gespeel het. “Die gehoor was in ekstase oor ‘ ’Nkosi sikela iAfrika’ wat soos ’n goue draad deur die werk vleg.”

Ander concerto’s wat ook op premières deur Bosch en sy ’bas wag, is van David Earl, ’n Suid-Afrikaner wat in Brittanje woon, en Allan Stephenson, ’n Brit wat in Kaapstad woon.

Bass-ically Brilliant, Bosch se eerste CD vir 2020, bevat duo’s vir tjello en kontrabas wat hy saam met Peter Martens, leiertjellis in die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, opgeneem het. Dié musiek moet ook nog op ’n verhoog in ’n koronavirusvrye omgewing uitgevoer word.

Kassie

Werke op ‘The South African Double Bass’:

Sonatina – Grant McLachlan

Canticles for Peace – Michael Viljoen

Isipho – Peter Klatzow

Nocturne ‘Old Nectar’ – David Earl

Scratch + pad – and – six – Paul Hanmer

From the Heart – Anton Pieterson

Bepeinsing – Hans Roosenschoon

Some Thoughts on African Beer for Solo Double Bass – Allan Stephenson

Preludio e Umdanso – Hendrik Hofmeyr

Kassie

Meer oor Bosch

Benewens kontrabassolis en dirigent is Leon Bosch ook ’n professor aan die Trinity College Laban in Londen, hy gee les aan die Purcell School of Music, bied gereeld meesterklasse oor die wêreld heen aan, is die stigterslid van die ensembles I Musicanti en Ubuntu, en besit die uitgewery I Musicanti Publishing. Hy neem ook gereeld aan marathons deel.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.