Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pavarotti se lewe in nuwe dokkie-fliek uitgebeeld

Seldsame beeldmateriaal van die enigmatiese operasanger Luciano Pavarotti, ’n blik op sy optredes en nuwe onderhoude is in ’n dokumentêr verwerk wat van einde vandeesmaand in Suid-Afrikaanse fliekteaters vertoon word.

Die titel is bloot Pavarotti.

Ron Howard, ’n Oscar-bekroonde rolprentmaker, het die argiewe gefynkam vir hoogtepunte uit dosyne onderhoude wat Pavarotti toegestaan het. Daarna het Howard en sy span die mikrofoon geneem na sy twee vroue, familielede, studente, ander sangers, promotors en agente in New York, Los Angeles, Montreal, Londen, Modena en Verona. Dit het hulle ’n hele jaar geneem om 53 uitsoek-onderhoude te kry om ’n eerlike beeld van ’n buitengewoon begaafde sanger te weerspieël.

“Dié gesprekke onthul meer van die mens agter die sanger, sy vertwyfeling en begeertes en sy pogings om sy yslike ambisie met ’n gewone lewe te versoen.

Die legendariese operatenoor Luciano Pavarotti se lewensverhaal word in ’n nuwe dokumentêr uitgebeeld.

Howard se grootste vonds was beeldmateriaal wat nog nie voorheen gewys is nie – tuisopnames deur familie en vriende wat sy laaste eggenoot, Nicoletta Mantovani, vir hom gegee het. Sy is hoof van die Pavarotti-museum in Modena.

Pavarotti het grootgeword in ’n werkersklasbuurt waar opera gewilde vermaak vir gewone mense was. Sy tienerdroom was egter om ’n sokkerspeler te word, maar ná skool het hy tog musiek studeer en daarna saam met sy pa in ’n koor gesing. Dit is waar sy loopbaan begin het.

Pavarotti het ’n ongeëwenaarde stem gehad en saam met José Carreras en Placido Domingo in die Drie Tenore het sy ikoniese status verder toegeneem.

Volgens die Discotheque-webtuiste het Pavarotti 296 albums opgeneem, is sy stem op 362 versamelalbums te hoor en het hy in sy loopbaan van meer as 40 jaar meer as ’n miljoen albums verkoop.

Hy hou ook die rekord vir die meeste buigings, 165, ná ’n uitvoering.

Dit is egter net die agtergrond vir die dokumentêr. Dié huldeblyk gaan oor die mens wat nooit sy beskeie wortels vergeet het nie, tegelyk kinderlik en ’n diep siel was en nie onbewus van sy enorme talent nie. Die sanger Bono het gesê: “Some can sing opera. Luciano Pavarotti was an opera.”

Pavarotti is vervaardig deur dieselfde span wat The Beatles: Eight Days a Week – The Touring Years die lig laat sien het.

Die dokumentêr draai van 27 September in fliekteaters.

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Pavarotti
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.