Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Pêrelvissers’ in Kunstekaap groot mylpaal vir regisseur

Al word net 100 teatergangers toegelaat by Bizet se Les pêcheurs de perles (Die pêrelvissers) in die Kunstekaap, al is daar net drie opvoerings en al sing die koorlede met maskers aan, is dié operaproduksie ’n groot mylpaal vir Elisabeth Manduell.

’n Toneel van die semi-konsertweergawe van ‘Die pêrelvissers’ van Bizet wat vandeesweek in die Kunstekaap opgevoer word. Foto: CTO

Sy is die regisseur, 25 jaar oud en dit is haar eerste geleentheid nadat sy sowat twee jaar lank die assistent vir onder andere Matthew Wild, Steven Stead en Alan Swerdlow was.

Die opera word as ’n semi-konsertweergawe aangebied, wat in werklikheid meer dinkwerk verg as ’n volwaardige opera “omdat ’n mens planne moet maak om die gehoor betrokke te hou”, vertel Manduell.

“Ek het op drie elemente gefokus – intense emosies, sterk klem op die verhaal en groot projeksies as agtergrond.

“Ons gebruik feitlik geen rekwisiete nie, maar die projeksies is ryk en party dromerige kunswerke wat die verhaal komplementeer.

“Omdat ek Frans magtig is, kon ek die verhaal ten diepste ontgin, wat die sangers help om die emosies ekstra te beklemtoon. Ek glo hierdie aspekte is goeie plaasvervangers vir die mooi prentjie wat gehore dikwels van operaproduksies verwag.”

Die hoofsangers is die bariton William Berger in die rol van Zurga, die sopraan Vuvu Mpofu as Leila, die tenoor Lukhanyo Moyake as Nadir en Thesele Kemane as Nourabad. Kemane is ’n sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

Die regisseur Elisabeth Manduell verduidelik ’n handeling aan een van die sangers in Bizet se opera ‘Die pêrelvissers’. Foto: CTO

Berger het ook ’n Bloemfonteinse verbintenis. Ná jare as lid van die Drakensberg Seunskoor het hy matriek aan die St. Andrew’s School in Bloemfontein voltooi, waarna hy met beurse aan die Royal Academy of Music in Londen studeer het en die afgelope sowat 20 jaar op Europese en Amerikaanse operaverhoë gesing het.

Die Kaapse lieflinge Mpofu en Moyake sal die eerste keer sedert Rigoletto in 2017 weer saam op ’n Suid-Afrikaanse verhoog verskyn.

Albei het intussen hul stempel in Europese operaproduksies afgedruk. Mpofu het in Glyndebourne, die Beierse Staatsopera en vir die Vlaamse operageselskap geskitter, terwyl Moyake sy debuut vir die English National Opera met twee suksesvolle seisoene in die Weense Staatsopera opgevolg het.

Jan Latham-Koenig, wat die Kaapstad Filharmoniese Orkes lei, is ’n gewilde Britse operadirigent wat hiermee sy debuut in Suid-Afrika maak.

Manduell is ’n gebore Londenaar en was 11 jaar oud toe die gesin na Durban verhuis het, waar sy gematrikuleer het. “Ek het daarna Kaap toe gekom om operasang aan die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege te studeer. In my derde jaar het ek aangebied om as assistent-regisseur vir ’n studenteproduksie op te tree, en in my vierde jaar het ek meer geleenthede gekry. So het die gogga gebyt en nou verkies ek regie bo dié van sanger.”

Haar toekomsvisie is om ’n vroulike perspektief aan opvoerings te bied, veral in die Mozart-operas soos Così fan tutte en Don Giovanni, waarin die vroue as minderwaardige karakters behandel word.

  • 15 en 17 Junie om 18:30 en 19 Junie om 18:00 in die Kunstekaap. Die kaartjies kos R300 by Computicket. Covid-19-maatreëls word toegepas.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.