Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pianis belig ma se lewe wat aan Joodse volksmoord ontsnap
Die Amerikaanse pianis Mona Golabek.

Die verhaal van ’n 14-jarige meisie wat aan die Joodse volksmoord in die Tweede Wêreldoorlog ontsnap het en in ’n internasionale pianis ontwikkel het, word nou met musiek en vertelling deur haar dogter oor die wêreld heen versprei.

Mona Golabek, wat soos haar ma, Lisa Jura, ’n konsertsolis geword het, tree in Augustus met ’n unieke program in Suid-Afrika op.

Jura is een van die sowat 10 000 kinders wat 81 jaar gelede uit die kloue van die Nazi’s gered is en met die sogenaamde Kindertransport na veiligheid buite Europa gestuur is. Albei Jura se ouers is in Auschwitz vermoor.

Golabek het haar ma se verhaal in The Children of Willesden Lane beskryf, ’n boek wat later in ’n teaterstuk verwerk is. The Pianist ofWillesden Lane is ’n solovertoning met Golabek en is in 2012 in die Geffen Playhouse in Los Angeles opgevoer en in 2016 in die St James Theatre in Londen.

Dele uit die boek, wat haar ma se ervarings emosioneel en grafies uitbeeld, is ingesluit in Golabek se konsertaanbieding.

Die pianis Lisa Jura en haar man, Michel Golabek.

Jura, wat tot die uitbreek van die oorlog by haar ma in hul huis in Wene klavierlesse geneem het, moes in Engeland in ’n stadium as ’n stikster in ’n fabriek werk om liggaam en siel aanmekaar te hou, met haar klavier as enigste troos. Sy het egter aan haar musiekdroom bly klou en uiteindelik ’n bron van inspirasie vir ander geword en op verhoë geskitter.

Die musiek wat Golabek in die aanbieding speel, vorm ’n integrale deel van haar ma se lewensverhaal – werke van Debussy, Grieg en Beethoven tot Rachmaninoff, wat persoonlike anekdotes aanvul.

Mona Golabek, wat in Amerika woon, het ook by háár ma les geneem en van al die toonaangewende pianiste by wie sy studeer het, sonder sy haar ma as die inspirerendste uit.

In 1972 het Golabek die Jong Konsertkunstenaars se Internasionale Oudisies gewen, wat aan haar ’n solo-uitvoering in Hunter-kollege in New York besorg het.

Daarna het sy in Rome en Londen studeer en sedertdien met bekende orkeste en dirigente oor die wêreld heen opgetree. Die komponis William Kraft het sy Concerto for Mona aan haar opgedra.

Golabek het deesdae ’n eie radioprogram in Amerika waarin sy meestal klassieke musiek speel.

*Dié narratiewe konsert word op 7 Augustus in die Linder-ouditorium in Parktown, Johannesburg, aangebied. Besprekings is nog nie oop nie.

*Kaartjies vir die konsert op 13 Augustus om 19:30 in die Kaapstadse stadsaal kos R165 en R195 en kan reeds by Computicket gekoop word.

*Die uitvoering is deel van ’n groter projek wat oor twee dae aan sowat 5 000 leerlinge in die Johannesburg-omgewing aangebied word en in die Kaapstad-omgewing herhaal word.

Meer oor:  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.