Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pianis Pisarenko 1ste keer in Bloem te sien

Die klanke van die FSSO se “ongewone” videospeletjiekonsert het nog skaars weggesterf of ’n volgende “ongewone” konsert wag om musiekliefhebbers te verras.

Dié keer is ensembles die soliste en ’n jong Russiese pianis met ’n lys prestasies so lank soos ’n man se arm die genooide kunstenaar.

Die Russiese pianis Vitaly Pisarenko wat op ’n konserttoer in Suid-Afrika is.

Vitaly Pisarenko het al in ander Suid-Afrikaanse stede die wêreld aan die brand gespeel en is nog tot 29 September hier op toer. Dit sal egter die eerste keer wees dat hy in Bloemfontein optree en helaas nie as solis nie. Hy sal

saam met die Bloemfonteinse trompetspeler Paul Loeb van Zuilenburg in Sjostakowitsj se Concerto vir klavier, trompet en strykers, op. 31, gehoor word.

Die Odeionstrykkwartet met Samson Diamond (viool), Sharon de Kock (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) is die solis in Elgar se meesterwerk Introduction and Allegro for String Quartet and Strings. Die werk is geskryf met die doel om die musici se virtuositeit te vertoon. Dit het byvoorbeeld 21 mate van 16de note met ’n crescendo van baie sag tot ’n kragtige forte.

Daarna volg ’n lewendige fuga, wat Elgar self as ’n “duiwel van ’n fuga” beskryf het.

Aangesien Elgar self ’n violis was en weet wat moontlik is, is tegniese virtuositeit aan die orde in die twee viooldele. Die gevolg is dat die altviolis en tjellis ook uitgedaag word om by te hou.

Die aand se program word afgerond met die Sinfonia Concertante in E mol-majeur vir vier houtblasers en orkes van Mozart. Die ensemble bestaan uit die onderskeie seksieleiers in die FSSO – Kobus Malan (hobo), Danré Strydom (klarinet), Brahm Henkins (fagot) en Shannon Arner (horing). Hulle speel nie net as ensemble nie, maar het elkeen ook solodele.

Vitaly Pisarenko

Dié “buitengewoon begaafde pianis met ’n asembenemende tegniek”, volgens The New York Times, is in 1987 in Kiëf in die Oekraïne gebore. Hy was ’n skamele 21 jaar oud toe hy in 2008 die Internasionale Franz Liszt-klavierkompetisie in Nederland gewen het en sy internasionale loopbaan reeds die volgende dag op ’n galop begin het. Hy het saam met die Nederlandse Raio- Filharmoniese Orkes in Amsterdam se Concertgebouw opgetree.

Die wyse waarop sy dagboek skielik volbespreek is, was dalk oorweldigend, maar die verhoog was nie vir hom onbekend nie. Hy het sy eerste openbare konsert reeds op ses jaar gegee.

Ná sy oorwinning in die Liszt-kompetisie het Pisarenko in 25 lande van die ooste tot die weste opgetree, in voorste konsertsale saam met voorste dirigente en as ’n solis.

Ondanks sy vol dagboek hou hy nie op studeer nie.

Van 2005 tot die voltooiing van ’n nagraadse kursus in 2013 was Pisarenko ’n student aan die Tsjaikofski-staatskonservatorium in Moskou. Terselfdertyd was hy ook ’n student van die bekende Oxana Yablonskaya in Italië en van 2012 verbonde aan die Royal College of Music in Londen. In 2014 het hy hier ’n meestersgraad verwerf, in 2015 ’n uitvoerende kunstenaarsdiploma en tans is hy vir ’n doktorsgraad ingeskryf.
Toerprogram:

* 9 September: Glenshiel Manor, Westcliff, Johannesburg. Solo-uitvoering.

* 12 en 13 September, Linder-ouditorium, Johannesburg: Beethoven se Klavierconcerto nr. 3 met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes en die dirigent Perry So.

* 15 September, Lin Tatham-kunsgalery, Pietermaritzburg: Uitvoering met die klarinetspeler Junnan Sun.

* 16 September, St. Agnes-kerk, Kloof. Solo-uitvoering.

* 22 September, Odeionteater, Bloemfontein.

* 27 September, Wahnfried, McGregor. Solo-uitvoering.

* 29 September, La Motte-kelder, Franschhoek. Solo-uitvoering.

Meer oor:  Odeionstrykkwartet  |  Vitaly Pisarenko  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.