“Dis maar ’n outjie hierdie, hoor?” sê die sanger Pieter Koen nadat hy positief vir Covid-19 getoets is.
“Ek het nou al op my spore probeer teruggaan om vas te stel waar ek dit kon opgedoen het, maar ek weet nie.”

Pieter Koen
Koen, ook ’n veldaanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla en voorheen die aanbieder van JukeBox, isoleer hom tuis die afgelope agt dae in Pretoria.
Sy vrou en kinders het nie die virus nie.
“My vrou is wel op pad dokter toe. Ons weet nie wat die uitslag sal wees nie.
“Ek het werklik gedink dis net griep, want ek het nie die simptome getoon waarvoor die virus bekend is nie. Ek het nie ’n seer keel gehad of my smaak verloor nie, maar dit is toe inderdaad Covid. Ek pas myself nou by die huis op.”
Koen gaan egter nie lê nie.
“Ek hoop ek kan vinnig genees en voortgaan.”Hy werk tans aan sy eerste vollengte-album in ’n paar jaar, wat hy beoog om teen Junie of Julie uit te reik.
“Dit was ’n skok om positief te toets, veral omdat kunstenaars reeds so min weens die virus kan doen. Ek is baie dankbaar dat ek danksy my werk by Kwêla darem nog bedrywig was. Dis maar ’n storie, nè.”
Volgens Koen is baie mense in die musiekbedryf bang om te waag.
“Dis soos ’n rugbywedstryd – jy kyk eers wat die ander span doen. Maar ek gaan nie moed verloor nie.”