Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pieter Kooij-kompetisie gaan aanlyn voort

Die 12de Pieter Kooij-musiekkompetisie gaan in die voetspore van talle ander kunswedstryde volg en ook vanjaar weens die Covid-19-pandemie ’n digitale baadjie kry.

Die pianis Qden Blaauw het verlede jaar die Pieter Kooij-kompetisie gewen.

Die kompetisie, wat jaarliks deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word, daag hoërskoolmusici uit om hul staal op talle instrumente in twee rondes te toon.

Prysgeld van R6 000 vir die wenner en R4 000 vir die naaswenner, asook talle kategoriepryse van R750 is weer vanjaar danksy die Pieter Kooij-trust op die spel.

Die kompetisie is vernoem na Pieter Kooij, voormalige musiekonderwyser aan dié skool én legendariese skrywer en resensent, wat in 2018 oorlede is.

Volgens Geruan Geldenhuys, hoof van musiek aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en koördineerder van die kompetisie, was dit belangrik om ondanks die Covid-19-pandemie en die staat van inperking ’n weg te vind om die kompetisie vanjaar aan te bied.

“Die pandemie het soveel kulturele geleenthede oor die land én die wêreld heen negatief beïnvloed; daarom het ons dit goedgedink om ’n tipe afwyking van die ‘nuwe normaal’ te bied – ook verligting en vreugde vir alle belanghebbendes en ondersteuners wat klassieke musiek in Kaapstad bevorder en ons jong musici steun,” sê hy.

“Ons het besef dat daar altyd ’n manier is om enige probleem te oorkom, en in hierdie geval het die moontlikheid om dit virtueel aan te bied vir ons ’n uitweg gegee.”

Hoewel die kompetisie volgens Geldenhuys eintlik ’n “streeksgerigte kompetisie” is, wat sterk onder musici in die Kaapstad-metro gevestig is, het ’n aanlyn aanbieding dié fokus ietwat vergroot en is inskrywings van die Boland tot in Pretoria vanjaar ontvang.

Daar word in die nuwe kuberformaat van deelnemers verwag om ’n ononderbroke video-opname van hul voordrag in te dien. Die beoordelaars – die pianis Nina Schumann, die musikoloog en gerekende eksaminator Hubert van der Spuy en die komponis Hendrik Hofmeyr – sal dan die opnames beoordeel en ’n lys met finaliste opstel.

Al die finaliste sal in die Welgemeend-landgoed se konsertsaal opgeneem word. Dié opnames sal dan as ’n galageleentheid op 5 September om 19:30 aanlyn gestroom word. Die pianis Qden Blaauw, verlede jaar se wenner, sal ook in dié virtuele konsert optree. Kaartjies kos R50 en kan by Quicket bespreek word.

Die wenners sal eers op 7 September aangekondig word. Stuur ’n e-pos na geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek  |  Nina Schumann
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.