Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pieter Kooij-kompetisie weer aanlyn aangebied

Die jaarlikse Pieter Kooij-musiekkompetisie gaan vir ’n tweede opeenvolgende jaar ’n aanlyn kinkel kry, wat skoolgaande musici oor die land heen weer in staat sal stel om in te skryf.

Die 13-jarige Mike Wang, ’n leerling van die Hoër Jongenskool Paarl, het verlede jaar die Pieter Kooij-musiekkompetisie gewen. Foto: YouTube

Die kompetisie, wat vanjaar vir die dertiende keer deur die Hoërskool Jan van Riebeeck en die Welgemeend Skool vir Musiek aangebied word, was voor die pandemie slegs oop vir jong musici in die Kaapstad-metro, die Boland en die wynlande.

Die pandemie het egter verlede jaar se kompetisie gedeeltelik aanlyn gedwing, wat inskrywings uit alle oorde in Suid-Afrika moontlik gemaak het.

Volgens Geruan Geldenhuys, hoof van musiek en kultuur aan die Hoërskool Jan van Riebeeck én die musiekkompetisie se organiseerder, gaan hulle vanjaar weer so maak: Die kompetisie se formaat sal weer twee rondes insluit, waarvan die eerste ronde “beslis aanlyn” sal plaasvind.

“Ons sal die eindronde óf aanlyn óf in lewende lywe óf ’n kombinasie van die twee aanbied. Dit sal afhang van die vlak van inperking waarin ons ons (in September) bevind,” sê hy.

“Ek dink verlede jaar se aanlyn kompetisie het baie suksesvol verloop en dit het leerlinge ondanks die omstandighede steeds die geleentheid gegee om na iets te werk. Ons glo ons het definitief ’n grondslag gelê en leerlinge met inspirasie en hoop gevul.

“Solank as wat die pandemie ons probeer pootjie, gaan ons om dit werk en die beste van ’n moeilike situasie maak.”

Die kompetisie is vanjaar oop vir alle skoolgaande musici wat hul instrument op minstens gr. 6-vlak bespeel.

Hulle sal as deel van die eerste ronde twee kontrasterende stukke van nie langer as tien minute nie op video moet opneem en indien. Die video moet sonder redigering of pouses opgeneem word. Die beoordelaars sal dan na die video’s kyk, die kaf van die koring skei en die topkandidate nooi om sake in die eindronde uit te spook.

Prysgeld van R6 000 vir die wenner en R4 000 vir die naaswenner is danksy die Pieter Kooij-trust op die spel. Kategoriepryse ter waarde van R1 000 elk sal ook aan die beste uitvoering van ’n Barok- en Romantiese werk, asook die beste pianis, strykinstrumentalis en hout- of koperblaas-instrumentalis toegeken word.

Inskrywings kos R150 en moet teen Vrouedag ingedien word. Musici hoef egter eers teen 28 Augustus hul opnames vir die eerste ronde in te dien. Die finaliste sal op 3 September aangekondig word, voordat die eindronde op 11 September in die Welgemeend-konsertsaal sal plaasvind.

Stuur ’n e-pos na geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za om die inskrywingsvorm te bekom, die vorm in te dien, of die volledige kompetisiereëls en -vereistes te besigtig.

Die kompetisie is genoem na Pieter Kooij, ’n voormalige musiekonderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en Die Burger se heeltydse klassiekemusiekskrywer vir sowat 35 jaar. Kooij is in 2018 in die ouderdom van 81 oorlede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.