Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Plant klink op 69 steeds onblusbaar

Die herlewing van Led Zeppelin se sanger, Robert Plant, is niks minder fenomenaal nie. As daar nou ooit ’n feniks was wat gelouter uit die asse van die 70’s se harde rock en dekadente roem herrys het, is dit die langhaar-heer Plant, skryf Danie Marais..

Robert Plant – Carry Fire ****

“Life is a moderately good play with a badly written third act,” het Truman Capote, die skrywer van Breakfast at Tiffany’s en In Cold Blood, gesê.

In die wêreld van pop en rock met sy onversadigbare soeke na die volgende groot, jong ster, is dit dubbeld waar vir die meeste rebelle van weleer.

Juis daarom was die triomfantelike terugkeer van grys ikone soos Johnny Cash en Leo­nard Cohen so welkom en uitsonderlik. Die herlewing van Led Zeppelin se sanger, Robert Plant, is niks minder fenomenaal nie. As daar nou ooit ’n feniks was wat gelouter uit die asse van die 70’s se harde rock en dekadente roem herrys het, is dit die langhaar-heer Plant.

Dié man het hom onder die skadu van sy eie monumentale verlede uitgesing en -gespeel.

Sedert 2005 se Mighty ReArranger skiet Plant nie net dodelik sekuur nie, hy tref heel nuwe teikens.

Hy het as “mighty rearranger” in die afdgelope 12 jaar al sy eie musikale invloede (van rock tot die blues, folk, rockabilly en pop) opwindend vermeng met klanke uit Wes- en Noord-Afrika – die woestyn-blues van ’n Ali Farka Touré uit Mali en die Toearegse kitaarklanke en ritmes van Tinariwen. Op Carry Fire se geïnspireerde voorganger, Lullaby and . . . The Ceaseless Roar – my plaat van die jaar in 2014 – was daar selfs eggo’s van dub en techno.

Die indrukwekkende herverbeelding van Plant se musiek was geen solo-wonderwerk nie.

Daar was die skitterende Grammy-bekroonde americana-album wat hy saam met die bluegrass-sangeres Alison Krauss opgeneem het, Raising Sand (2007), en die merkwaardige, soms selfs Gotiese country-roots-rockerige Band of Joy (2010) in samewerking met Buddy Miller en Patty Griffin.

Die innoverendste medespelers van Plant se laaste dekade was egter die Sensational Space Shifters onder leiding van Justin Adams.

Hierdie ouens buig op Mighty ReArranger, Lullaby en die uitstekende nuwe Carry Fire tyd en ruimte en voer jou weg na eksotiese woude van klank waarbinne Plant sing en dans soos ’n kontemporêre Pan.

Waar Lullaby ’n volkome anderwêreldse siklus was, is sy jongste op drie snitte direk met die treurige toestand van die hier en nou begaan. Plant bly meer van ’n mistieke rock ’n’ roll-sjamaan as ’n vuis-in-die-lug ­politieke kommentator soos Roger Waters, maar die woede wat hy met “New World”, “Carving Up the World Again … A Wall and Not a Fence” en “Bones of Saints” tot uitdrukking bring, voel tans absoluut gepas.

Teer liefdesliedjies soos “Season’s Song” en “Dance with You Tonight” en die gefluisterde elegie aan die einde van die plaat, “Heaven Sent”, is egter ewe welkom.

Sy nuwe een is ryk wêreldmusiek-gegeurde vurige folk-rock oftewel hard-rocking folk wat organies-akoesties-elektries klink.

“Carry Fire” is dus met goeie rede die titelsnit. Dit ’n uitstaande komposisie waarin Midde-Oosterse klanke met Westerse folk-rock lepellê, met ’n refrein wat die hele gedoente en al Plant se beste werk mooi opsom: “I carry fire for you / Here in my ­naked hands”.

Ja, die 69-jarige Plant klink steeds onblusbaar, maar dis sagter gesigte wat hy in die vlamme van sy musiek laat dans. Sy stem is nou ryker en meer geskakeerd. Daar is terughouding, wilde drif, vergifnis en kinderlike verwondering in ’n liedjie soos “The May Queen”.

So ’n fassinerende derde bedryf is min ou rockers beskore.

Top-snitte:

“The May Queen”

“New World”

“Carry Fire”

“Blue Birds over the Mountain”

Meer oor:  Musiek  |  Danie Marais  |  Byklanke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.