Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Poolse komponis Krzysztof Penderecki (86) sterf

Krzysztof Penderecki, die Poolse komponis en dirigent wat op 29 Maart oorlede is, word beskryf as ’n “modernistiese komponis” wie se musiek in konsertsale en populêre kultuur gehoor word.

Krzysztof Penderecki voor die Krakow-simfonieorkes. Dié komponis-dirigent is op 29 Maart in die ouderdom van 86 in sy geboorteland, Pole, oorlede.

Van sy komposisies is byvoorbeeld as die klankbaan van die flieks The Exorcist en The Shining gebruik, terwyl hy ook ’n inspirasie vir rockmusikante was.

Hy het tuis in Krakow aan kanker gesterf en was 86 jaar oud.

Penderecki, wat die afgelope meer as 50 jaar Pole se bekendste komponis was, het nooit stilgesit nie. Hy het op die voorgrond getree toe hy in die vroeë 1960’s met radikale komposisie-idees vir hom ’n plek in die avant-garde-groep oopgeskryf het. Sedertdien het hy agt simfonieë, vier operas, ’n requiem, ander koorwerke en verskeie concerto’s gelewer. Laasgenoemde het hy heel vrolik as “byna onspeelbaar” beskryf.

Dié wat wel sy musiek kon bemeester, soos die violis Anne-Sophie Mutter en die tjellis Mstislaf Rostropowitsj, se opnames het Grammy-pryse gewen, in onderskeidelik 1999 en 1988.

Penderecki is meestal bekend vir sy koorkomposisies wat Pole se passievolle Katolisisme verkondig, asook die land se geskiedenis van buitelandse oorheersing. Sy vroeë werke het massiewe klanktrosse bevat en geen herkenbare melodie of harmonie nie. Hy het, voordat hy hom tot die neo-Romantiek gewend het, self gesê sy musiek van die vroeë tyd “was meer destruktief as konstruktief”.

Dit was nietemin komposisies uit die eerste dekade van sy loopbaan, soos Threnody for the Victims of Hiroshima (1960), Polymorphia (1961) en die St. Luke Passion (1966), wat hom in sy jong jare internasionale erkenning besorg het.

Veral Threnody is ’n voorbeeld van ontstellende emosionele effekte wat uit abstrakte konsepte geskep is. Die bladmusiek lyk meer na meetkundehuiswerk as konvensionele musieknotasie, maar wanneer 52 strykers dit uitvoer, stel die meedoënlose senutergende klanke vernietiging deur ’n kern-aanval voor. Penderecki het die werk aan die slagoffers van Hirosjima opgedra nadat hy die werk gehoor het toe dit die eerste keer uitgevoer is.

Penderecki het weinig musiek vir flieks geskryf, maar regisseurs het gou agtergekom van sy werke is ideaal om rillertonele, moord en chaos uit te beeld. Sy musiek is byvoorbeeld gebruik in Martin Scorsese se Shutter Island, Fearless van Peter Weir, Wild at Heart en Inland Empire van David Lynch, maar die bekendste is in Stanley Kubrick se The Shining en William Friedkin se The Exorcist.

Popmusikante wat inspirasie uit Penderecki se musiek geput het, is Kele Okereke van Bloc Party, Robbie Robertson van The Band en Jonny Greenwood, die klassiek-opgeleide kitaarspeler van Radiohead.

Penderecki was partykeer om die verkeerde redes in die nuus, soos om nie spertye na te kom nie. Hy het byvoorbeeld opdrag van die Lyric Opera in Chicago gekry om ’n nuwe werk vir die Amerikaanse 200-jarige viering in 1976 te skep. Amerikaanse komponiste was woedend omdat ’n buitelander die opdrag gekry het, terwyl Penderecki vreesloos voortgegaan het met ’n uitspattige idee – ’n soort oratorium-opera gegrond op Milton se epiese Paradise Lost. Die werk was nie betyds klaar nie en toe die première wel in November 1978 plaasgevind het, het min mense daarvan gehou.

Opera was juis nie sy sterkste genre nie. Sy eerste poging, The Devils of Loudun (1969), het gemengde reaksie ontlok en is deur die Vatikaan afgekeur omdat hy daarmee ’n 17de eeuse skandaal in die kerk uitgebeeld het.

Op die dirigeerpodium was Penderecki ’n kragtige bebaarde figuur wat sy musiek met groot swiepende gebare gedirigeer het. Vir sy Simfonie nr. 7, met die subtitel Seven Gates of Jerusalem, ter viering van dié stad se 300ste bestaansjaar in 1996, is ’n reuse-orkes nodig met koper- en houtblasers agter die verhoog, drie kore, vyf soliste en ’n verteller.

Hy het selde sy werk as voltooid beskou en gedurig nuwe dele by ou komposisies gevoeg. Sy Poolse requiem wat as ’n enkele stuk, die Lacrimosa, bestaan het en vir die inhuldiging van die standbeeld in Gdansk se skeepswerf ná die teenregeringsopstande geskep is, het hy tot ’n grootskaalse mis uitgebrei. Dit is die eerste keer in 1984 uitgevoer, verder uitgebrei in 1993 en vir ’n uitvoering in 2005 het hy nog ’n deel bygevoeg.

Penderecki se musiek het altyd ’n donker en depremerende ondertoon, en tog was sy geaardheid en persoonlike omstandighede die teenoorgestelde. Hy was ’n welgestelde man en het in ’n herehuis op ’n kleinhoewe in Lutoslawice gewoon, wat hy liefderik as ’n botaniese tuin ontwikkel het. Hy het meer komposisie-opdragte gekry as wat hy kon hanteer en het ’n produktiewe loopbaan as dirigent van die Krakow-simfonieorkes en as genooide dirigent in die buiteland geniet.

Hy word oorleef deur sy vrou van meer as 50 jaar, Elzbieta, twee kinders, Lukasz en Dominika, uit hul huwelik en ’n dogter, Beate, uit sy eerste huwelik. – Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne: NPR Radio, The New York Times, The Guardian en Wikipedia

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek  |  Flieks  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.