Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Poolse pianis maak plan vir konserte in SA
Joanna Wicherek

Al bestaan daar net vier werke vir ’n kwintet saamgestel uit die vreemde kombinasie van ’n horing, klarinet, tjello, viool en klavier, en al het twee lede hulle op die nippertjie onttrek, maak die Poolse pianis Joanna Wicherek baie planne, maar ’n toer na Suid-Afrika gee sy nie prys nie.

Gelukkig kon sy twee topmusici, die Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen en die violis David Bester van Port Elizabeth, kry om die twee plekke in die projek-ensemble Quintessence te vul. Die kwintet hou vier konserte in Suid-Afrika.

Wicherek wat in Pole, Oostenryk en Duitsland studeer het, het van 2014 tot 2017 as vryskut in Suid-Afrika opgetree en maak sedertdien ’n punt daarvan om een keer ’n jaar terug te keer.

Sy het ’n gevarieerde program saamgestel uit twee klaviertrio’s, twee duette en ’n kwintet. Die hoofwerk is die Tsjeggiese komponis Zdenek Fibich se

Dariusz Quang

Kwintet op. 42, ’n toeganklike romantiese werk van 45 minute wat ’n aangename luisterervaring beloof.

Die uitgewer Silvertrust sê oor die werk: “Die ongewone kombinasie van instrumente gee die komposisie reeds ’n interessante klank. Wat ’n jammerte dus dat so ’n pragtige werk feitlik onbekend is.”

Volgens Wicherek is die eerste helfte van die konsert soos vier skilderye. Dit bestaan uit twee werke vir klassieke klaviertrio (viool, tjello, klavier), Mammals of Southern Africa deur die Suid-Afrikaans gebore komponis Robert Fokkens, wat in Brittanje woon, en Although Daedalus Reached deur die Poolse komponis Pawel Mykietyn; en twee Franse werke, En Fôret (In die woud) van Eugène Bozza en Theme and Variations van Jean Françaix.

Wicherek sê En Forêt is ’n “skilderagtige werk” maar so mooi soos dit mag wees, so moeilik is dit vir die horingspeler.

Françaix gee daarenteen die klarinetspeler kans om te skitter. “Sy deel bevat passasies wat feitlik al die klarinet se moontlikhede vertoon en vir die speler om al sy vaardighede uit te stal.”

Piotr Quang

Volgende jaar, sê die Poolse pianis, bring sy ’n kontratenoor op ’n toer deur Suid-Afrika.

Wicherek het klavier, kamermusiek, historiese klawerbord en orrel aan die Chopin-musiekuniversiteit in Warskou en daarna aan die Musikhochschule Freiburg en die Universität für Musik und Darstellende Kunst in Wene studeer. Haar opnames sluit ’n CD met vroeë musiek in wat as klankbaan vir die rolprent Violated Letters (2010) gebruik is.

Die klarinetspeler Piotr Quang en sy broer, die horingsspeler Dariusz Quang, het ook aan die Chopin-universiteit studeer. Albei het verskeie kompetisies gewen.

Van der Westhuizen is ’n lid van die bekroonde Odeion-strykkwartet, ’n solis en dosent in Bloemfontein. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en daarna agt jaar in Oostenryk studeer en professioneel opgetree.

Haar ervaring sluit dié van hooftjellis in orkeste en strykensembles, dirigent van die UCT String Ensemble en tans van die Odeion Simfonia in.

In 2013 het sy haar PhD in musiekuitvoering van die Universiteit Pretoria ontvang.

Bester, wenner van verskeie pryse en ’n viooldosent aan die Nelson Mandela-Universiteit, het aan die US studeer en daarna aan die Koninklike Konservatorium in Antwerpen, België. Toerprogram:

* Bloemfontein, Odeion-teater, UV-kampus: 25 April om 19:30. Kaartjies wissel van R60 tot R150 by Computicket.

* Pretoria, Poolse ambassade: 26 April om 19:00.

* Grahamstad, Musiekvereniging: 30 April om 19:30.

* Port Alfred, Richmond House: 5 Mei om 15:00.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.