Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pretoria kry nuwe stadsorkes

Pretorianers met ’n voorliefde vir orkesmusiek het ’n vroeë Kersgeskenk gekry: Die stad het amptelik ’n nuwe simfonieorkes.

Paul Loeb van Zuilenburg dirigeer die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes tydens ’n uitvoering in 2013. Foto: Stefan van Biljon

Die Capital City-orkes (CCO) is naas die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes (BPO) en die Stellenbosse Stadsorkes (SCO) die derde stadsorkes wat sedert 2012 deur die Suid-Afrikaanse Stadsorkeste-groep op die been gebring is.

Volgens Paul Loeb van Zuilenburg, artistieke direkteur en dirigent van al drie die orkeste, sal die CCO nes sy voorgangers professionele musici en amateurs kontrakteer om “musiek te maak wat toeganklik is vir die publiek”.

“Dink ABBA, James Bond, Queen, Andrew Lloyd Webber, rolprentmusiek en ouskool jazz,” sê Loeb van Zuilenburg.

In teenstelling met orkeste wat musici heeltyds aanstel, sê die dirigent die CCO sal instrumentaliste “per projek bymekaar nooi, afhangend van wat benodig word”. Hy sê dié model is heel moontlik die toekoms van orkeste in Suid-Afrika.

“As ’n mens na, byvoorbeeld, die Londense Filharmoniese Orkes kyk, word elke speler per sessie gekontrakteer. As jy dus nie speel nie, word jy nie betaal nie,” sê hy.

“Ons is gewoond aan ’n meer gestruktureerde model in Suid-Afrika (wat musici heeltyds aanstel), maar ek begin meer en meer dink dis nie volhoubaar nie.

“Gevolglik werk dié orkes (die CCO) van ’n laer kostestruktuur af en poog dan om volhoubaar te wees deur die verkoop van kaartjies. Natuurlik bestaan die moontlikheid ook vir borge om betrokke te raak as titelborge, wat dan die geleentheid skep om later groter en beter produksies aan te pak.”

In Pretoria het ons eerstens spelers en tweedens ’n groter mark . . .
Paul Loeb van Zuilenburg

Netwerk24 het verlede week berig dat die toekoms van die BPO in gedrang is nadat hul laaste van vier konserte vanjaar weens ’n gebrek aan belangstelling gekanselleer is.

Loeb van Zuilenburg het toe gesê daar is heelwat faktore in die Rosestad wat direk tot die BPO se wankelrige vooruitsigte gelei het, onder meer ’n gedeelte van hul gehoor wat die stad reeds verlaat het en ’n gebrek aan spesialis-instrumentaliste. Dié faktore het nie ’n invloed op die SCO nie, wat net van krag tot krag gaan, en behoort ook nie ’n probleem in die hoofstad te wees nie, sê hy.

“In Pretoria het ons eerstens spelers en tweedens ’n groter mark – een wat ook bereid is om meer as R150 (per kaartjie) te betaal vir ’n simfoniekonsert! Daar is wel baie kompetisie van ander orkeste, maar hulle is nie heeltemal in ons presiese ‘spasie’ nie – ons bied iets anders. Ons sal maar Vrydagaand kyk wat die reaksie is.”

Die CCO bied sy eerste konsert Vrydag om 19:30 in die Musaion op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus aan. Die Walliese komponis sir Karl Jenkins se grootse The Armed Man: A Mass for Peace sal deur die CCO en die koor van die Hoërskool Wonderboom, die Magaliesberg-kinderkoor en die Conwonnitè-koor uitgevoer word. Kaartjies teen R230 is by die deur of aanlyn by Quicket beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.