Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pretty skitter in omstrede ‘La Traviata’

Buitelandse kritici is gaande oor die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende se debuut in La Traviata van Giuseppe Verdi wat tot 16 Oktober in die Palais Garnier in Parys, Frankryk, op die planke is.

Die sopraan, wat wêreldwyd in aanvraag is en beskou word as een van die blinkste pêrels in Suid-Afrikaanse opera-geskiedenis, lewer glo haar beste werk in die uitmergelende hoofrol as Violetta.

Michael Milenski skryf op die webwerf Opera Today sy het ’n reusetaak gehad om by die Italiaanse dirigent Michele Mariotti kers vas te hou. Haar “suiwer stem” en “dramatiese onskuld” het die knoop weergaloos deurgehak, meen hy.

“Met ’n formidabele tegniek én haar bereidwilligheid om vokaal kanse te waag, het sy definitief in die maestro se verwagtings voldoen. Dit was beeldskone sang,” skryf hy.

Melissa Lesnie skryf op die tydskrif Limelight se webwerf Yende is op die openingsaand staande toegejuig.

“Haar dramatiese klanke lê ’n dieper en warmer interpretasie bloot van die karakter in haar laaste, folterende oomblikke, ook in die duet in die tweede bedryf saam met (die karakter) Germont,” skryf sy.

’n Resensie op die Franse webwerf Revopéra beskryf Yende as “ongelooflik” en bestempel haar as die operawêreld se weergawe van ’n “liriese Beyoncé”.

“Die sopraan verrig wondere met haar oorspronklikheid, briljansie en ratsheid. Sy triomfeer oor die moeilike dele in die tweede bedryf en slaag daarin om die passasies in die rol te oorbrug.”

Pretty Yende in 2018 in die Metropolitan-operahuis se produksie van Gaetano Donizetti se opera L’elisir d’amore. Foto: Getty Images

Yende het dié lof gekry ondanks die Australiese teaterskepper Simon Stone se besluit om die 1853-opera in die 21ste eeu te verbeeld. In Stone se weergawe vertolk Yende die rol van ’n internetster wie se roem, verslawing aan sosiale media en, natuurlik, die liefde, tot haar ondergang lei. Volgens die Franse webwerf RFI het dit talle oë laat rek en is dit deur sommige gehoorlede uitgejou.

Yende het vir die uitsaaier France 24 gesê sy was glo die inspirasie agter Stone se besluit om vir die opera ’n moderne baadjie te gee.

“Dit is altyd ’n ongelooflike ervaring om deel van iets nuuts te wees. Ek glo vas stories kan op verskillende maniere vertel word,” het sy gesê.

Yende is al telkemale in die verlede die hoofrol in die opera aangebied, maar het dit tot onlangs toe elke keer van die hand gewys.

“Dit het net nou gevoel soos die regte tyd om my hand aan die rol te waag, want dit is ’n ikoniese rol, maar ek het altyd geweet dit is vokaal, tegnies en emosioneel uitdagend en dit verg ’n volwassenheid wat ek nog (in die verlede) nodig gehad het.

“Ek was baie gelukkig om in my jong loopbaan in Lucia di Lammermoor (’n opera van Gaetano Donizetti) te sing, wat ook emosioneel en tegnies uitdagend is. Op ’n manier het dit my daarop (op La Traviata) voorberei en my laat besef ek is nou gereed om Violetta aan te pak.”

Meer oor:  Opera  |  Klassieke Musiek  |  Pretty Yende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.