Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pretty Yende: Ek hét ’n geldige visum

Die sage oor die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende se aanhouding op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys het Woensdag nog ’n kinkel bygekry toe sy op sosiale media ’n foto gedeel het van wat ’n geldige visum blyk te wees.

Pretty Yende in 2018 op die verhoog in Barcelona, Spanje. Foto: Getty Images

Die Franse doeanepolisie het haar Maandag op die lughawe voorgekeer en in ’n aanhoudingsel gestop nadat sy daarvan beskuldig is dat sy die land vanaf Milaan, Italië, sonder ’n geldige permit binnegekom het.

Daar is glo ook op haar eiendom beslag gelê en sy is gevisenteer. Sy is glo ’n paar uur later vrygelaat nadat ’n nuwe visum aan haar uitgereik is.

Die Franse ambassade in Suid-Afrika, wat ’n polisieverslag oor die voorval onder oë gehad het, het dié inligting Woensdag aan Netwerk24 bevestig.

Yende, wat die voorval as “verregaande rassediskriminasie” beskryf het, ontken egter die doeanebeamptes se bewering dat daar ’n probleem met haar reisdokumente was.

“Ek wil dit duidelik stel dat ek wél al die nodige dokumente gehad het wat my sedert 2009 toelaat om vrylik te beweeg en te werk.

“Ek het ’n permesso di soggiorno italiano (’n Italiaanse verblyfpermit), wat tans hernu word, en ’n permesso di soggiorno improvvisorio (’n tydelike verblyfpermit) wat ek vir die doeanepolisie gegee het en wat ek nou hier (op Facebook) wys.

“Ek het nié ’n (bykomende) visum nodig gehad om enige Europese land, insluitend Frankryk, binne te gaan of daar te werk nie.”

Yende het ’n verklaring deur haar prokureur by die inskrywing ingesluit, waarin verduidelik word dat sy sedert 16 Februarie 2015 die status van “langtermyn-EU-burger” geniet.

“Hierdie verblyfpermit, wat op papier aan haar uitgereik is, laat die sangeres toe om buite die Italiaanse grense te reis; dit is tot 20 September 2021 geldig en is uitgereik aan iemand wat vir hulself werk.

“Daar is geen foute in die inligting (op die verblyfpermit) nie en geen twyfel oor die geldigheid daarvan nie.”

Yende het dié foto van ’n oënskynlik geldige verblyfpermit op Facebook gedeel.

Yende se prokureur sê haar aanhouding was daarom “heeltemal onwettig” en dat ernstige reëls oor buitelandse burgers se beweging in die Schengen-gebied oortree is.

Yende het haar inskrywing afgesluit deur te sê sy gaan nie verder ’n “my-woord-teen-jou-woord-speletjie” speel nie.

Die Franse ambassade in Suid-Afrika het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy het nie nuwe inligting in dié verband nie. Hy het wel herhaal dat die Franse doeanepolisie volhou dat die dokumente wat sy Maandag aan hulle gegee het, ongeldig was.

“Dit is wel betreurenswaardig dat me. Yende hierdie probleme met haar aankoms in Frankryk ervaar het.

“Van ons kollegas in Parys is in kontak met haar om te hoor of sy oukei is. Ons hoop sy sal aanhou om op te tree in Frankryk, waar sy baie aanhangers het.”

Die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Donderdag in ’n verklaring gesê hy soek antwoorde by Aurélien Lechevallier, die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, oor die voorval.

Luidens die verklaring is die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys ook in kontak met die Franse doeanepolisie nadat Yende die ambassade oor die verbale mishandeling en die skending van haar regte ingelig het.

Yende, Gianluca Macheda, haar bestuurder, en die Italiaanse konsul-generaal in Kaapstad, wat Yende in 2019 tot ridder geslaan het, het nog nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.