Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pretty Yende glo oor ongeldige visum voorgekeer

Die Franse ambassade in Suid-Afrika sê hy is deur die polisie in Frankryk ingelig dat die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys voorgekeer is omdat sy glo nie ’n geldige visum gehad het om die land wettig binne te gaan nie.

Pretty Yende op die verhoog in die Metropolitan-operahuis in New York. Foto: Getty Images

Yende het Dinsdag op Facebook en Instagram geskryf sy is “steeds geskok” dat sy Maandag beweerde polisiegeweld op die lughawe beleef het.

Sy het beweer dat sy deur doeanebeamptes voorgekeer is; dat hulle beslag gelê het op al haar besittings, insluitend haar selfoon; hulle haar gevisenteer het; hulle vir haar ’n stukkie papier gegee het waarop sy die telefoonnommers van vriende en familie in Frankryk moes neerskryf; sy in ’n aanhoudingsel met ’n landlyntelefoon gestop is om dié vriende en familie te bel; en dat een van die beamptes bevestig het sy is ’n “gevangene”.

Hoewel sy nie “wreed ondervra en fisiek gemartel” is nie, het sy weens polisiegeweld teen “mense wat lyk soos ek” gedink dit is die einde van die pad vir haar.

“Ek is een van die baie, baie gelukkiges wat nog leef en vandag kan beleef, ondanks die mishandeling en verregaande rassediskriminasie en sielkundige marteling en ongelooflik aanstootlike rasse-opmerkings in ’n land (Frankryk) vir wie ek al so baie van my hart en voortreflikheid gegee het – en vir wie ek as ’n wettige internasionale burger op die wêreldverhoog steeds sal gee.”

Sy het geen visum- of paspoort-kwessies in enige van haar sosialemedia-inskrywings genoem nie.

Sy is deur ’n vrouepolisiebeampte gevisenteer om seker te maak dat sy nie enige gevaarlike voorwerpe by haar het nie, maar sy is nie gevra om haar klere uit te trek nie.
Franse ambassade in SA

Die Franse ambassade het Woensdag aan Netwerk24 bevestig Yende is inderdaad voorgekeer, maar sy is glo na ’n aanhoudingsel geneem omdat sy nie ’n geldige visum gehad het nie.

“Sy is deur ’n vrouepolisiebeampte gevisenteer om seker te maak dat sy nie enige gevaarlike voorwerpe by haar het nie, maar sy is nie gevra om haar klere uit te trek nie.

“Nadat alles geverifieer is, is ’n visum dadelik aan haar uitgereik en kon sy die lughawe verlaat.”

Die ambassade het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hulle is “baie verbaas” om van die voorval te hoor en dat hulle groot aanhangers van haar is. Hulle het dít Woensdag herhaal.

“Me. Yende is ’n wonderlike kunstenaar wat ’n groot bydrae tot die kulturele betrekkinge tussen Frankryk en Suid-Afrika lewer.

“Gehore in Parys was onlangs in hul noppies met haar voordrag in die Théâtre des Champs-Elysées.”

Groupe ADP, wat die Charles de Gaulle-lughawe bestuur, het Dinsdag om verskoning gevra vir die voorval. Hulle het Woensdag aan Netwerk24 gesê hulle kon nog net vasstel dat Yende deur die Franse grenspolisie voorgekeer is – nie doeanebeamptes, soos wat sy beweer het, nie.

Netwerk24 het via Instagram na Yende uitgereik, maar sy het nog nie gereageer nie. ’n E-pos-navraag aan Gianluca Macheda, haar bestuurder, is ook nog onbeantwoord.

Meer oor:  Charles De Gaulle-Lughawe  |  Polisiegeweld  |  Facebook  |  Instagram  |  Pretty Yende  |  Opera  |  Klassieke Musiek  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.