Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Prins bestyg Baxter-troon met uitdagende program

Die pianis Megan-Geoffrey Prins, Standard Bank se Jong Kunstenaar van die Jaar vir musiek, is reeds weer slaggereed vir sy volgende optrede nadat hy pas vier uitvoerings op die Nasionale Kunstefees in Makhanda gegee het.

Vir die solo-uitvoering in Kaapstad sal hy die verskillende fasette van die klavierrepertorium belig. ’n Werk wat in opdrag van die kunstefees vir hom geskryf is, Finding|Being deur die Stellenbosse komponis Arthur Feder, is weer op sy program, maar die ander werke word nuut bygevoeg.

So veelfasettig soos die program, so ingewikkeld is die ritmes wat Feder in Finding|Being gebruik om die verskillende Afrika-musiekstyle te weerspieël.

Prins begin sy konsert met “Variasies op ’n tema van Corelli” deur Rachmaninoff, ’n komponis vir wie se werk hy ’n besondere aanvoeling het, gegewe die vele aanprysings wat hy ontvang. Soos die meeste “Variasies” is dit geen werk om sonder handskoene te pak nie. Dis moeilik. Ná Prins se uitvoerings van Rachmaninoff se klavierconcerto’s in Duitsland is hy egter geprys vir sy “tegniese akkuraatheid”, “artistieke uitdrukking” en “voortreflike vertolking”.

Asof die Corelli nie genoeg van ’n uitdaging is nie, vervolg hy met die Australiese komponis Carl Vine se klaviersonate, ’n “monster van ’n werk”. Vine is ’n Australiese komponis wat die werk in 1991 vir die Sydney-dansgeselskap gekomponeer het en die energieke, voortstuwende en uitdagende aard van moderne dansvorme daarin weerspieël.

’n Teenstellende faset van klaviermusiek is vyf rustiger preludes van Debussy op Prins se program. Dit sluit gunstelinge in soos Voiles (sluiers/seile), Les collines d’Anacapri (die heuwels van Anacapri) en La fille aux cheveux de lin (die meisie met die vlaskleurige hare).

In die slotwerk word die tempo en volume verhoog. Franz Liszt se Mephisto-walsnr. 1 gaan oor die vurige verhaal van ’n duiwelse violis wat gaste op ’n huweliksonthaal met sy aansteeklike klanke betower.

Prins se ma het hom sy heel eerste klavierlesse in Riversdal gegee waar die pianis grootgeword het en sy ouers steeds woon.

Sedertdien het Prins aan die Universiteit Stellenbosch (US) uitgeblink en in Amerika verder studeer waar hy ’n doktorsgraad aan die geprese Cleveland-musiekinstituut verwerf het.

Deur die jare het hy sy stempel op verskeie nasionale en internasionale kompetisies afgedruk en eerste pryse in Unisa se 120ste herdenkingskompetisie, die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekkompetisie, die vyfde Unisa- Nasionale Klavierkompetisie, die instrumentale ATKV-Muziq-kompetisie in 2016 en die Samro- oorsese beurskompetisie in 2017 verower.

Hy het ook al as solis met orkeste in Duitsland, die VSA en Suid-Afrika opgetree. *27 Julie om 19:30 in die Baxter-konsertsaal. Bespreek by Webtickets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.