Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Prins gaan betower met 4 klavierkonserte
Megan-Geoffrey Prins

Megan-Geoffrey Prins was van kleins af omring met musiek. Sy ma het hom sy eerste klavierlesse gegee en hy was nog bloedjonk toe hy reeds in hul kerk in Riversdal gesing en die gemeentesang op die orrel begelei het.

Lees ’n mens oor die res van sy loopbaan, is dit te verstane dat hy as Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Musiek vir vanjaar aangewys is. In ruil vir dié eer sal hy in vier konserte op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad optree en wys waarom hy so hoog aangeslaan word.

Prins het ná sy eerste oorwinning in ’n musiekkompetisie in 2001, die Hubert van der Spuy vir kinders tot 13 jaar, die idee gekry om van musiek ’n loopbaan te maak. Hy was toe 11 jaar oud.

Die idee het vinnig vlerke gekry, want drie jaar later het hy reeds concerto’s met al die voorste orkeste in Suid-Afrika gespeel.

Ná skool, en nadat hy as skoolseun die klavierafdeling van die Kunstekaap Nasionale Jeugmusiekkompetisie in 2007 en 2008 gewen het, het hy met musiekstudies aan die Universiteit Stellenbosch begin. Onder Nina Schumann en Luis Magalhães het hy so ontwikkel dat hy aangeraai is om sy nagraadse studie in die buiteland voort te sit.

Danksy beurse en kompetisiegeld is hy na een van die top-konservatoriums in die VSA, die Cleveland-musiekinstituut waar die meesterpianis Antonio Pompa-Baldi sy spel verder verfyn het. Prins het sy meestersgraad daar verwerf en verlede jaar die instituut as doktor in musiek verlaat.

Uit ’n ellelange lys van kompetisies waaraan Prins in die afgelope 18 jaar deelgeneem het, is sy belangrikste oorwinnings Unisa se 120ste herdenkingskompetisie, die vyfde Unisa Nasionale Klavierkompetisie in 2015, die Muziq-kompetisie in 2016 en die Samro- Oorsese Beurskompetisie in 2017.

Intussen het hy ook ’n konsertloopbaan aan die gang gekry en reeds in Duitsland, Italië, Frankryk, Switserland, Hongkong, Mosambiek en die VSA opgetree. Die meeste optredes is egter in Suid-Afrika as konsertsolis en kamermusikus, soos nou ook op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

Hy kan in vier konserte gehoor word. In Metamorphosis: Reflections at the Piano voer hy solowerke uit van Liszt, Rachmaninoff, Debussy en ’n nuwe komposisie wat die Stellenbosse komponis Arthur Feder vir hom geskep het.

In ’n simfoniekonsert speel hy saam met die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes (OKFO) Rachmaninoff se welbekende Klavierconcerto nr. 2.

Dan is daar ook kamermusiekkonserte: ’n Klaviertrio wat hy met die violis David Bester en tjellis Caleb Vaughn-Jones vorm vir werke van Schubert en Brahms, en ’n duo (klavier en viool) waarvoor hy met Bester saamspan en die kollig op Franse musiek sal laat val.

Prins sê hy wil graag sy internasionale loopbaan uitbrei, maar met Suid-Afrika as sy tuiste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.