Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Prys in gesogte kompetisie ‘het soet smaak’
Alexander Ramm wat Donderdagaand in Bloemfontein saam met die pianis Pieter Jacobs optree.

Kompetisies, sê die Russiese tjellis Alexander Ramm, is ’n “noodsaaklike euwel”.

“Want: As jy geen pryse wen nie, is jy niks nie. En as jy wel ’n paar pryse wen, is jy een van baie.”

Dié Russiese tjellis is onnodig negatief. Wanneer hy Donderdag die Odeion-verhoog betree, mag hy sy bors ver uitstoot. Hy het onlangs die tweede prys in die prestigeryke Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen en soos hy self sê: “Ek wil nie die soet smaak van dié prestasie bederf nie, daarom is ek nou klaar met kompetisies.”

Die 27-jarige Ramm was ’n skrale 21 jaar toe hy hom in 2010 as ’n tjellis met oorvloedige talent in die Unisa- Internasionale Strykerkompetisie in Pretoria onderskei het.

Hy was algeheel vierde, maar was verreweg die jongste en het te oordeel na resensies en sy CV sedertdien aansienlik ontwikkel.

Daarna het hy die Beijing- Internasionale en die Russiese Musiekkompetisie, albei ook in 2010, gewen. In 2013 was hy die eerste Russiese instrumentalis wat ’n prys in die Paulo-tjellokompetisie in Helsinki gewen het toe hy die derde prys ontvang het.

Die waarde wat kompetisies wel vir Ramm het, is dat dit sy spelpeil verbeter mits hy “baie hard en met sy verstand geoefen het”.

Ramm, wat in 2012 in Bloemfontein opgetree het, sê hy het in 2014 sy studie (aan die Hanns Eisler Hochschule für Musik in Berlyn) afgehandel en gee nou in sy vrye tyd aandag aan sy en Anna Odintsova se eersteling. Odintsova is ’n pianis wat hom in die Tsjaikofski-kompetisie bygestaan het en die prys vir die beste begeleier ontvang het. In 2012 was hulle ’n pryswenner in die Sweedse duo-kompetisie.

Ramm word gereken as ’n “nuwe-generasietjellis wat gekenmerk word deur sy bekoorlike artistieke kreatiwiteit en weergalose tegniese vaardighede”.

Hy was sewe jaar oud toe hy die eerste keer by die Kaliningrad-musiekskool in Rusland aangebring is en omdat dit volgens die Russiese standaarde te oud is om met viool te begin, is hy ’n tjello gegee.

Hy was erg omgekrap, hy wou viool speel en niks anders nie. Eers toe die dosent sê dit wat hy het, is ook ’n viool, dit is net ’n ‘groot viool’, was hy tevrede.

Nadat die gesin na Moskou verhuis het waar Ramm op tien jaar aan die Chopin-Moskou-kollege vir Musiek aanvaar is, het hy met rasse skrede gevorder.

Toe hy in 2013 in Kaapstad opgetree het, het ’n resensent in die Cape Times geskryf: “Ramm speel met enorme musikale gesaghebbendheid. Hy het ’n fenomenale tegniek wat hy ten volle in dié aangrypende uitvoering gebruik het.”

  • Die Pretoriase pianis Pieter Jacobs staan hom by in ’n program wat die meeste konsertgangers genoegdoening sal verskaf – Grieg se melodieuse Tjellosonate, op. 36 in A mineur, die Amerikaanse komponis Samuel Barber se Tjellosonate, op. 6 in C mineur, Prokofiëf se Tjellosonate, op. 119 en Piazzolla se Le Grand Tango vir tjello en klavier. Die konsert is op 22 April om 19:30 in die Odeion-teater. Kaartjies kos van R50 tot R130 by Computicket. Pensioentrekkers, studente, leerlinge en UV-personeel moet ’n ID toon vir korting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.