Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Pumeza Matshikiza 2de keer in 17 jaar in SA

Die aansporing vir Pumeza Matshikiza en Pretty Yende se operaloopbaan was dieselfde. Albei het in hul tienerjare die eerste keer ’n operastem op die radio of TV gehoor.

Albei was stomgeslaan en albei het geweet dit is hoe hulle wil sing.

Nie net het dié begeerte vir hulle waar geword nie, albei het operastemme van formaat ontwikkel en wêreldsterre geword.

Die 42-jarige Matshikiza, ’n sopraan en solis in Stuttgart se Staatsopera in Duitsland, tree die tweede keer in 17 jaar in Suid-Afrika op wanneer sy in Maart saam met die Kaapstad-operakoor en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in Kirstenbosch sing. Die plaaslike tenoor Sipho Fubesi is die ander solis en Jeremy Silver die dirigent.

Pumeza sê sanglesse was buite die kwessie vir ’n Xhosa-meisie in ’n township in die Oos-Kaap, maar “ ’n mens ontwikkel ander maniere”. Nadat sy die operasanger op radio gehoor het, het sy Afrika- en Westerse musiek van gehoor af geleer terwyl sy in kerkkore gesing het.

Toe sy aan die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege begin studeer het, het sy die eerste keer haar stem gehoor en haar byna doodgeskrik. Sy sê sy verwag nie mense moet daarvan hou nie en tog klink dit op in teaters oor die wêreld heen.

Die Suid-Afrikaanse komponis Kevin Volans het Matshikiza destyds in Kaapstad gehoor en haar aangeraai om aan die Royal College of Music in Londen verder te studeer. Hy het vir haar ’n vliegkaartjie daarheen gekoop en sy het nooit weer teruggekyk nie.

Drie jaar lank is sy in die Jette Parker Young Artist-program vir die professionele verhoog opgelei en afgerond.

Talle operas in Covent Garden het gevolg, sy het die eerste prys in die Veronica Dunne Internasionale Sangkompetisie in 2010 gewen en ’n vennootskap van die maatskappy Classical Opera is vir haar aangebied.

Pumeza Matshikiza

Daarna het sy haar vlerke gesprei en van La Scala tot Rio de Janeiro, Turkye en Praag opgetree, saam met onder andere die gesogte tenoor Rolando Villazón. Sy was ook die solis in die première van Luca Francesconi se opera Bread, Water and Salt, wat op ’n toespraak van Nelson Mandela gegrond is.

Matshikiza, wat in Berlyn woon, sê sy sing gemiddeld in twee operas per jaar en in dosyne konserte. Die operarolle in haar repertorium is te veel om op te noem, maar die karakter waarvoor sy die bekendste is, is Mimi in La bohème van Puccini.

Wanneer sy nie sing nie, volg sy wêreldpolitiek, luister na alle musiek waarop sy haar hande kan lê en lees oor haar gunstelingvakke, sielkunde en filosofie.

Sy het twee CD’s opgeneem, Voice of Hope en Arias, albei deur Decca, met wie sy ’n eksklusiewe kontrak het.

  • Die duetkonsert is op 22 Maart om 20:00 in Kirstenbosch. Die kaartjies kos R220 by www.webtickets.co.za.
Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Klassieke Musiek  |  Pretty Yende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.