Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Qadasi meer as net ‘Clegg vir ’n nuwe generasie’

Waar Johnny Clegg die pad met ’n nuwe soort kultureel vermengde musiek aangewys het, sal Qadasi, oftewel David Jenkins, volg en nuwe maskandi-musiek saam met sy mentor skep.

Qadasi saam met Maqhinga Radebe, sy medekunstenaar, vriend en mentor.

Maskandi is ’n soort hedendaagse Zoeloe-folkmusiek.

’n Video van Qadasi (27) waar hy saam met Maqhinga Radebe (54), sy medemusikant, vriend en mentor, in ’n voertuig jam, het vandeesweek ná Clegg se dood weens pankreaskanker weer op sosiale media opgeduik.

“Die video is in 2017 gemaak. Ek en Maqhinga het sommer net ’n ou liedjie van Clegg se band Juluka in die motor gejam. Dit het destyds groot opslae gemaak,” sê Qadasi.

Clegg het Qadasi as kind geïnspireer.

“Hy was die pionier van die musiek wat ons deesdae verder ontwikkel en ontgin. Ek wou altyd ’n musikant word en het Clegg as kind al bewonder – ek ag sy baanbrekerswerk hoog,” sê Qadasi.

“My maskandi-musiek is die voortbouing van die vermenging van Westerse folkmusiek en Zoeloe-musiek en -sang. Ek en Maqhinga speel egter ’n nuwe generasie van maskandi-musiek in ’n ander politieke atmosfeer as Clegg. Dit is komplekse fusion-musiek en klank. Die sang, kitaar en konsertina kan net in sekere harmonieë en melodieë gespeel word. Die kitaar en konsertina word aangepas, ge-Afrikaniseer as’t ware, om net sekere klanke in die maskandi-styl voort te bring.”

Qadasi het in 2013 saam met Johnny Clegg op ’n konsert in Durban opgetree.
Qadasi

Maqhinga was die vervaardiger van Qadasi se eerste twee soloalbums.“Ons het egter so geheg geraak dat ons besef het ons moet net saamwerk. Ons eerste akoestiese album is in 2016 bekend gestel en ons neem nou die volgende een met ’n volle orkes en instrumente op. Dit is ons eie oorspronklike musiek en lirieke,” sê Qadasi.

“Hy is ’n mentor vir my, juis omdat hy ook saam met Ladysmith Black Mambazo oorsee opgetree het. Saam het ons al baie in Asië en Europa, veral Duitsland, opgetree, waar ons musiek baie gewild is.”

Hoewel Qadasi as kind in Empangeni aan Zoeloe blootgestel is, het hy die taal op skool bemeester toe hy dit as vak geneem het.

Maqhinga sê Qadasi inspireer hom deur sy jeugdigheid.

“Ons agtergronde verskil baie en dit is die rykdom van ons musiek.”

Meer oor:  Johnny Clegg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.