Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag “een van Suid-Afrika se beste uitvoerprodukte” – die Soweto Gospel Choir – by die Markteater-plein in Johannesburg vereer.
Ramaphosa, vergesel van Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het die koor gelukgewens vir hul Grammy-toekenning in Februarie in die VSA in die kategorie Beste Wêreldmusiek-album vir hul bundel liedjies onder die titel “Freedom”.

Pres. Cyril Ramaphosa met die groot prys . . .Ramaphosa het gister by ’n seremonie in die Markteater in Johannesburg hulde gebring aan die Soweto Gospel Choir wat onlangs ’n Grammy-toekenning losgeslaan het. Foto: PRESIDENSIE
“Julle is seer sekerlik die mees kleurvolle uitvoerproduk wat ons het – kleurvol nie net in die klere waarin julle pronk nie, – maar julle is ook die mees aktiewe uitvoerproduk wat ons het,” het Ramaphosa gesê.
“Jul naam weergalm reg deur die wêreld.”
Dié was die groep se vyfde benoeming in die kategorie en hulle het die toekenning nou al drie keer gewen.
Ramaphosa, wat geskerts het dat hy laat is omdat hy sy pak klere vir ’n meer kleurvolle gewaad moes omruil toe hy verneem dat die koor so kleurvol aangetrek is, het gespog dat hy self die hemp wat hy dra ontwerp het.
“Dit is nie sonder rede dat julle die Soweto Gospel Choir genoem word nie, want die evangelie beteken “goeie nuus” en julle het werklik goeie nuus huistoe gebring, ons gemoedere gelig en ons daaraan herinner dat dit goed is in ons land,” het Ramaphosa gesê.
Hy het die koor daaraan herinner dat hulle ook ’n toeriste-attraksie is en in die proses help om die land se ekonomie te laat groei.

Pres. Cyril Ramaphosa en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur staan gister met die Emmy-beeldjie wat anlangs aan die Soweto Gospel Choir toegeken is. Ramaphosa het by ’n seremonie in die Markteater in Johannesburg hulde gebring aan die koor vir dié toekenning. Foto: PRESIDENSIE