Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rauch tydens AIG in Heldesaal opgeneem

Die sangeres Laurika Rauch – “danksy wie ons in Afrikaans kan lag, speel en huil” – se naam is Saterdag in die Suid-Afrikaanse Heldesaal tydens die Afrikaans is Groot-konsert in Pretoria opgeneem.

Johnny Burger, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Heldesaal, het op die konsert in die Sun Arena hier Rauch met die woord “nostalgie” vereenselwig.

Laurika Rauch saam met Corlea Botha en Karlien van Jaarsveld op die verhoog op die Afrikaans is Groot-konsert in die Sun Arena in Pretoria.

“Ek het baie lank in my lewe gewonder waar die woord ‘nostalgie’ vandaan kom. En soos ek vanaand voor u staan, is ek heilig oortuig dat die woord gebore is met Laurika Rauch.”

“Die nostalgie” is een van verskeie liedjies wat deur Rauch bekend gemaak is.

“Ek dink daar kom ’n tyd in ons almal se lewe waar ons terugkyk,” het Burger gesê.

“En sonder twyfel kry ons almal realistiese beelde van Mannetjies Roux, die branders op Bloubergstrand en ’n oom wat koffie drink met sy een oog toe.

“Haar treffers sal nie net vir ons behoue bly nie, maar vir die toekomstige generasies wanneer ons nie meer hier is nie.”

Die sangeres Karen Zoid het die oorkonde aan Rauch op die verhoog oorhandig.

Rauch het Burger en die SA Heldesaal vir die groot eer bedank.

“Dis vir my baie lekker om so gewaardeer te word.

Hierdie meisie van Pinelands het al die moontlike geleenthede gehad. Ek het al die avonture beleef waarvoor ’n mens kan vra. En ek hoop dat dié wat na my kom dieselfde belewenisse sal hê, en meer.”

Rauch, wat getroud is met die liedjieskrywer Christopher Torr, vier vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf.

Die egpaar het in Junie ’n eerbewys van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela (Nelspruit) ontvang.

Torr is verantwoordelik vir die skryf van liedjies soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Die gang”, “Kyk hoe glinster die maan”, “Die mense op die bus” en “Hot Gates”.

“Ek wil my gehoor bedank wat al die pad saam met my geloop het,” het Rauch gesê, “wat my ondersteun het en na my geluister het en somtyds besef het ek maak ’n fout, maar my nog steeds ondersteun het en saam met my gegroei het.

“Die afgelope 40 jaar het ek en my tydgenote somtyds miskien grense verskuif, op ’n manier. En dit word nog steeds gedoen deur die wonderlike jong nuwe kunstenaars – die Karen Zoids en almal van julle wat hier is – wat vernuwende werk doen, interessante werk doen en somtyds baanbrekerswerk doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.