Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Reeks bied blik op SA sanger en komponis in VSA
Lebo M, die Suid-Afrikaanse sanger, komponis en vervaardiger wat in Amerika bekendheid verwerf het. ’n Werklikheidsreeks oor sy lewe en loopbaan word vir Showmax verfilm. Foto: Verskaf

Wie het geweet die stem wat ’n mens eerste in The Lion King hoor, is dié van ’n Suid-Afrikaner?

En dat dié Suid-Afrikaner ’n Grammy met die wêreldbekende Hans Zimmer vir die klankbaan van die fliek deel?

Dat sy liedjies meer as 250 miljoen keer op Spotify gestroom is en hy die opening- en slotseremonies van die 2010 Wêreldbekersokkertoernooi vervaardig het?

Dié Suid-Afrikaner met die verhoognaam Lebo M (56) se lewe in die VSA en Suid-Afrika word nou as ’n werklikheidsreeks vir Showmax opgeneem.

Lebo M – Coming Home het tien episodes wat vanaf November te sien sal wees.

Die fokus val nie net op sy glansloopbaan nie, maar handel ook oor sy grootste droom, om sy familie saam te snoer.

Lebohang Morake, gebore in 1964 in Soweto, is drie keer getroud en het nege kinders help grootmaak terwyl hy musiek vir sangers soos Zahara, Ladysmith Black Mambazo, Judith Sephuma en sy dogter Refi geskep het.

Die Showmax-reeks begin met ’n blik op sy lewe op ’n perdelandgoed in Blair Athol. Hy woon hier saam met sy derde vrou, Angela Ngani-Casara, sy ma van in die 90 en vier van sy kinders.

Lebo M sê hy was aanvanklik skepties oor die reeks, maar nadat hy uitgevind het mense in Suid-Afrika weet nie eintlik van hom nie, het hy besluit om “oop te maak” sodat sy aanhangers en ander saam met hom, Angela en die kinders kan “kuier”.

Hy was maar nege jaar oud toe hy in nagklubs in Soweto begin sing en 13 toe hy sy eerste enkelspeler opgeneem het. Ná die Soweto-opstande in 1976 is hy na Lesotho waar die Amerikaanse ambassadeur in Maseru hom raakgesien het terwyl hy in ’n hotel opgetree het.

Met sy hulp is Lebo na die VSA om verder te studeer, eers aan die Duke Ellington College en toe in Los Angeles aan die City College. Daar het hy gesukkel om werk te kry en ’n tyd lank op straat geleef.

Deur toevallige ontmoetings het hy kennis gemaak met Zimmer wat hom gevra het om te help met musiek vir The Lion King. Hulle het saam soveel musiek gekomponeer dat Disney ’n tweede klankbaan-album, Rhythm of the Pride Lands, daarmee uitgereik het.

Lebo was ook betrokke by die Oscar-benoemde Long Night’s Journey into Day, die flieks Congo, Atlantis: The Lost Empire, Listen Up: The Lives of Quincy Jones en Born to be Wild.

Alles was nie net maanskyn en rose vir dié sanger, komponis, musiekverwerker en vervaardiger nie. Hy was 15 jaar aan alkohol verslaaf, is geskei van sy derde vrou en is ná ’n liefdeskind by ’n minnares, weer met Ngani-Casara versoen.

Lebo M – Coming Home is vanjaar die derde werklikheidsreeks op Showmax ná Somizi & Mohale: The Union en Life With Kelly Khumalo.

Volgens ’n verklaring kan uitgesien word na die aksierolprent Rogue in Desember en vroeg in 2021 sal die antieke Afrika-reeks Blood Psalms beskikbaar wees, asook Tali’s Wedding Diary, die moordraaisel Skemerdans en die kleindorpse riller Dam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.