Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Refentse in die wolke oor album, vlieglisensie

Die sanger Refentse is nie net in die wolke oor sy nuwe album nie, maar ook omdat hy op die rand staan om sy vlieglisensie te kry.

Refentse glimlag van oor tot oor oor sy nuwe album én sy vlieglisensie wat hy binnekort gaan kry. Foto: Christian Wolf

Refentse het vroeër vanjaar op Instagram onthul dat hy amptelik “een van my grootste liefdes” gaan najaag en sy private vlieglisensie aan die Bucephalus Air-vliegskool gaan verwerf.

“Ek kom mooi aan,” sê hy aan Netwerk24 oor sy opleiding. “Bucephalus kyk so mooi na my. Die proses is ’n bietjie weens die inperking vertraag, maar ek gaan binnekort my lisensie hê.

“Vandat ek kan onthou het ek die grootste fassinasie gehad met die lugvaart en alles wat dit behels. Dit is my eerste liefde – dalk een wat ek meer liefhet as musiek.”

Hoewel hy daarvan droom om hoog in die wolke te vlieg, gaan hy nie sy ander groot liefde, sy musiek, afskeep nie.

Refentse het onlangs die album Wandel in my woning uitgereik, sy vierde ateljeealbum naas My hart bly in ’n taal (2016), Deur my venster (2017) en Liefdegenerasie (2019).

“Ek kan dit amper nie glo nie,” sê hy oor die vierde album op sy kerfstok.

“Die titel is ’n formele uitnodiging aan die luisteraar om ’n kykie in my sienswyses en psige te kry en daarin te deel.”

Hy sê al die musiek op die album is in die staat van inperking geskryf – ’n tyd wat sy voordele én nadele gehad het.

“Ek het (in dié tyd) baie positiewe waarde aan my lewe geheg. Ek het met soveel mense gepraat en soveel nuwe vriende gemaak.

“Daarteenoor het die inperking ’n geweldige invloed op my besigheid gehad: Ek moes baie optredes afstel, wat ’n direkte invloed op my reserwes gehad het. Die staat van inperking was daarom beslis vyftig-vyftig vir my.”

Hy sê aanhangers sal beslis verbaas wees dat hy op sy nuwe album weer in talle tale sing en ook “so ’n bietjie met kletsrym rondgespeel het”. Die album sluit liedjies soos “Stormnag”, “Daai deng” en “Wondervrou” in – ook die duet “Spook” met Arno Carstens.

Hy hoop om al dié nuwe musiek binnekort op die verhoog uit te voer.

“Ek wil so graag net op die pad wees en toer, so dít is waaraan ek werk. Ek is besig om my album te bemark en my kalender vol te kry vir die res van die jaar. Alles gaan tot dusver klopdisselboom.”

  • Wandel in my woning is reeds uitgereik en is op digitale platforms soos Apple Music, Spotify, Deezer, Joox en YouTube Music beskikbaar. Besoek https://selectmusiek.lnk.to/uLjRvlkg vir meer inligting.
Meer oor:  Spotify  |  Arno Carstens  |  Apple Music  |  Youtube Music  |  Joox  |  Covid  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Refentse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.