Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Restourasie van Notre Dame-orrel begin; orrelis vertel

Die orrel in die wêreldbekende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk word tans uitmekaar gehaal sodat dit gerestoureer, skoongemaak en weer herbou kan word.

Die speeltafel van die orrel in die Notre Dame-katedraal in Parys. Foto: Getty Images

Dié stap volg op ’n brand in April verlede jaar wat verwoesting in die 675 jaar oue katedraal gesaai het. ’n Gedeelte van die monument se dak het uiteindelik ineengestort.

Hoewel die vlamme volgens The Guardian nie die orrel bereik het nie, is die instrument glo deur die vlamme se hitte beskadig en met ’n roetlaag bedek. Nadat die dak in puin gelê is, is die orrel boonop ’n paar maande later aan ’n hittegolf blootgestel.

Die instrument – wat bestaan uit sowat 8 000 pype, vyf manuale en 109 registers – word nou pyp vir pyp uitmekaar gehaal en gerestoureer, met die hoop dat dit weer in April 2024, vyf jaar ná die brand, in die katedraal sal opklink. Wanneer dit weer aanmekaargesit word, sal dit sowat ses maande neem om te stem.

Wim Viljoen, orrelis en professor in musiek aan die Universiteit van Pretoria, sê die orrel in die Notre Dame-katedraal is eintlik oor die eeue heen al ’n paar keer herbou.

Viljoen, wat in die laat 1970’s in Parys ’n orrelstudent van die wêreldbekende orrelspeler en -pedagoog Marie-Claire Alain was en dikwels tyd in die katedraal deurgebring het, sê die vraag is nou watter weergawe van die instrument weer aanmekaargesit sal word.

“Die instrument het nog pype van die oorspronklike orrel, wat deur die orrelbouer Clicquot gebou is, maar dit sou vir my sin maak dat hulle die weergawe herbou wat die afgelope 20 tot 30 jaar bestaan het,” sê hy.

“Hulle kan in elk geval nie veel aan die instrument verander nie omdat dit ’n historiese monument is, so dit is net vir my logies dat dit herbou sal word om weer te wees soos dit meer onlangs was.”

Viljoen sê die “geweldige hitte” wat die vlamme gegenereer het, sou waarskynlik die orrel se pype die meeste geaffekteer het.

“Die hitte sou moontlik die pype, wat van tin en lood gemaak is, verswak het, en dít is die rede hoekom hulle daai pype een vir een vir hitteskade moet nagaan. Van daardie pype is baie, baie swaar – dit hang soos ’n gordyn van bo na onder.

“Ek dink nie die instrument se hout het sommer skade opgedoen nie: Die hout is waarskynlik eikehout, wat vreeslik hard is.

“En die orrel was die laaste paar jaar nie meer meganies nie – hulle het dit vervang met ’n rekenaarstelsel, wat ’n sein van die speeltafel na die pype stuur, so daar sou waarskynlik ook nie baie skade gewees het nie, veral omdat daar nie meer so baie elektriese drade was nie.”

Die hitte sou moontlik die pype, wat van tin en lood gemaak is, verswak het, en dít is die rede hoekom hulle daai pype een vir een vir hitteskade moet nagaan. Van daardie pype is baie, baie swaar – dit hang soos ’n gordyn van bo na onder.
Prof. Wim Viljoen

Viljoen sê die orrel sal ná die restourasie waarskynlik weer klink soos voorheen.

“Daar sal eerstens genoeg pype wees wat nie deur die brand geaffekteer is nie, en tweedens is die bouers wat dit nou restoureer, ook die mense wat dit deurgaans in stand hou – hulle weet hoe dit klink en hoe dit moet klink,” sê hy.

“Selfs al is daar pype beskadig wat vervang moet word, het die orrelbouers presiese afmetings van elke pyp sodat hulle ’n byna identiese weergawe daarvan kan vervaardig.

“Dit is ’n tydsame proses, maar wanneer ons die orrel weer hoor, behoort dit te klink net soos dit die afgelope tyd het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.