Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Reuse-klarinet pryk by extravaganza in Odeion
Die enorme klarinet in die portaal van die Odeion.

’n Reusagtige klarinet wat die deelnemers aan die Internasionale Klarinet-extravaganza in die Odeion begroet, het hulle breed laat glimlag en dadelik ’n ontspanne atmosfeer geskep, sê die feeskurator Danré Strydom.

Dié tweede klarinetfees in die Odeion-musiekskool in Bloemfontein duur van 28 Januarie tot 1 Februarie en bied meesterklasse, middag- en aandkonserte, lesings en wedstryde aan.

Strydom sê sy wou graag “iets klarinet-agtigs” in die Odeion se portaal hê om die besoekers te verwelkom en het ’n klarinet uit karton in gedagte gehad.

“ ’n Kollega het ’n driedimensionele klarinet voorgestel en toe ons weer ons oë uitvee, het ons ’n ses meter lange meneer van ’n instrument.”

Dit bestaan uit ’n staalkonstruksie, opgestop en gevorm met papiermaché en kartonkleppe waaraan sy, twee OSM-kollegas en hul gades en Strydom se pianisbroer, Cézarre Strydom, saans ’n week lank gebou het.

Strydom sê die klarinet skep ’n gevoel van die grootsheid van die gebeurtenis. “Hiermee sê ons ook dit is nie net nog ’n klarinetkongres nie, maar ’n spesiale geleentheid waar persoonlike aandag aan elke deelnemer, aanbieder en kunstenaar gegee word.

Benewens die buitelandse meesters Eddy Vanoosthuyse en Severine Sieren van België en Bence Szepesi van Hongarye, is die Suid-Afrikaanse klarinetdosente Heinrich Armer, Danielle Rossouw, Jenny Brand en Annamarie Milton ook teenwoordig. Van dié aanbieders tree van 29 tot 31 Januarie om 12:15 in die middagkonserte op. Die konserte is gratis en oop vir die publiek.

Brand speel Brahms se Klarinettrio, en Anneke Lamont (klavier) en Anmari van der Westhuizen (tjello) Milton Schumann se Fantasiestücke.

’n Konserthoogtepunt is ’n klarinetkoor van meer as 50 spelers wat die eerste deel van Beethoven se Simfonie nr. 5 saam met die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) uitvoer. Dié gratis konsert op 1 Februarie sluit ook Bach se baie mooi Concerto vir vier klaviere in. Die pianiste is Lamont en Lesley Matthews van die OSM, Jana Mathee van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en Cézarre Strydom van die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Strydom sê werke van die Barokkomponnis Johann Molter en Carl Maria von Weber sal ook gehoor word en “twee opwindende werke wat die gehoor regop gaan laat sit”.

Die drie wenners van die komposisiekompetisie, waarvoor ’n groot aantal inskrywings ontvang is, word op 31 Januarie bekend gemaak en die wenners van die kunskompetisie sal op die orkeskonsert op 1 Februarie aangekondig word. Kunswerke kan vandeesweek nog by die OSM-kantoor ingehandig word.

Die Odeion-strykkwartet se optrede met van die buitelandse musici beloof om ’n fees te wees, nie net van musiek nie, maar ook van Warm Karoo se uitsoekgeregte. Bespreek vir die konsert op 31 Januarie op die webwerf www.warmkaroo.com.

Al die ander konserte vind in die Odeion-teater op die UV-kampus plaas. Die aandkonserte begin om 19:30 en is gratis.

Meer oor:  Musiek  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.