Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rieldans is weer vol skop
Dans en hofmakery dat die stofwolke staan. Toeka se rieldanse herleef weer danksy die ATKV se rieldansprojek.

Die oudste dans in Suid-Afrika het die laaste paar jaar ’n nuwe asem geskep en nou riel die mense dat die stof so staan.

Die gewildheid van die ATKV se rieldansprojek het die verwagtinge oortref en die dans herleef beslis, sê Gerrie Lemmer, hoofbestuurder van ATKV-projekte.

Dit het begin toe die skrywer Elias P. Nel met die ATKV begin praat het oor die riel. Dié vereniging het besluit om die dansvorm nader te ondersoek. Nel is as projekorganiseerder aangestel om die projek te begin en van die dansgroepe bymekaar te maak.

Met die eerste rieldanskompetisie in 2006 was daar sewe groepe met 105 deelnemers. Verlede jaar was daar 1 230 deelnemers.

Die kompetisie in 2015 het uit drie uitdunne, twee kwarteindrondes, ’n halfeindronde en ’n eindronde bestaan. Deesdae het die kompetisie ook drie kategorieë: junior o.12, junior o.18 en senior.

Die Nuwe Graskoue Trappers

Die riel het nou ook al in die buiteland gaan draai.

Die Nuwe Graskoue Trappers van Wupperthal is verlede jaar op die internasionale kultuurkompetisie in Los Angeles, Amerika, as die wêreldkampioen in die tradisionele volksdans-kategorie bekroon.

Die riel, wat baie gewild gedurende die 1930’s tot 1960’s was, het te doen met hofmakery tussen man en vrou en in dié dans word die dans van voëls en diere nageboots.

Die dans word afgelei van die danse wat die Khoi en San ná ’n goeie jagtog of oes of by godsdienstige feeste in sirkels om die vuur gedans het.

“Tradisioneel is rieldans bekend onder die ouer mense en niks is daaroor opgeteken nie,” sê Nel.

Een van die groot take is dus om ’n boek te skryf oor die geskiedenis van die rieldans.

“Ons fokus ook op skoolkinders en jeugdiges, juis sodat daardie kennis behoue kan bly.”

Die Nuwe Graskoue Trappers tydens die ATKV-Mediaveertjies vanjaar. Hulle is die wêreldkampioen in volksdans. Foto: Waldo Swiegers

Die kompetisie het ook ’n positiewe invloed op die gemeenskap.

“Dit gaan oor selftrots wat herwin word. Baie arm mense neem deel en wanneer hulle dans, is hulle op daardie oomblik die kampioen. Hulle word na ander dele van die land geneem en hulle besef daar is ’n ander wêreld ook.

“Die bekers en sertifikate wat hulle wen, skep verder ’n gevoel van eiewaarde.”

Vir die kompetisie is sand, stof en die buitelug noodsaaklik, maar van die danse is ook al verwerk om op ’n verhoog gedoen te kan word.

“Entrepreneurskap in die kunste word ook sterk beklemtoon. Dit is ’n kursus wat saam met die rieldanskompetisie aangebied word. Ons groot doel is steeds die voortsetting van ’n kultuurskat, om daarin te belê en dit aan oud en jonk bloot te stel,” sê Nel.

Gaan kyk op YouTube by https://youtu.be/ceVCpPNnXvc waar dié musiek vandaan kom.

Meer oor:  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.