Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rina Hugo sing hartsliedjies ten bate van Christelike organisasie

Die sangeres Rina Hugo en haar man, die pianis Johan van Rensburg, hou volgende Sondag ’n virtuele konsert ten bate van die Christelike Seemansorganisasie (CSO).

Hugo noem die konsert Hartsliedere, ’n woord waaraan sy “sommer een aand” gedink het.

Rina Hugo en Johan van Rensburg

“Die liedjies inspireer my. Wanneer ek hulle sing, beteken die woorde vir my iets. Ek het daarom gehoop dit sal ook vir die luisteraars iets beteken.”

Hugo het ’n jarelange verbintenis met die CSO, wat in die 1940’s ontstaan het en die evangelie in hawens versprei.

Hul bedrywighede is weens die staat van inperking gestaak.

“Ek het nogal gewonder wat ons kan doen om hulle by te staan,” sê Hugo.

“Ons het al meer as 400 vertonings in kerke en vir senior burgers gedoen.”

Van Rensburg en Hugo het op dié konsert besluit.

“Dis verbasend hoe min mense in die binneland van die CSO weet,” sê Van Rensburg.

“Ons probeer nou die aanlyn platform om te kyk of ons vir hulle nuwe donateurs kan kry.”

Hugo sing sowel sekulêre as gospelliedjies in die konsert.

Dit sluit in “Jesus Loves Me” en “Môre lyk dit anders”.

“Dis ’n lekker song vir bemoediging in hierdie tyd,” sê Van Rensburg.

Terwyl Hugo en Van Rensburg tydens die inperking tuisgebly het, het Van Rensburg van sy klavierspel opgeneem en op sosiale media gedeel.

“Johan kry die sommer die impuls om iets te doen,” sê Hugo.

“Ek dink hy en Riaan (van Rensburg, hul seun) het begin met ‘Caravans’ en toe het hulle twee en Johan se broer, Louis, saam met hulle iets opgeneem. Toe vra die mense waar is ek?”

Hugo het die liedjie “Still in Love with You” opgeneem.

“Ek was in ’n stadium bekommerd. Jy weet, oor Riaan wie se werk as musikant opgedroog het. Ek het nie geweet hoe om hom te troos en hom te help nie. En ek dink daar is baie mense wat deur dieselfde emosies as ek gegaan het.”

“En dit was nogal pret, want ons het nog nooit so iets gedoen nie. Die inperking het ons eintlik gedwing om ’n bietjie op die hoogte te kom met hierdie platform.”

Van Rensburg tree in volgende Sondag se konsert in een van die tien liedjies saam met Hugo op en lewer ook ’n solovertolking met die liedjie “Ballade vir Belinda”.

“Daar is van haar ouer liedjies wat ingepas het by hierdie tema,” sê Van Rensburg.

“Toe was ons taak hoe gaan ons dit aanbied? Want ons kan nie die huis verlaat nie.

Ons het elke liedjie opgeneem en ’n ander hoekie in die huis daarvoor gekies om ’n storietjie daarvan te maak.

Ons het nie veel toerusting gehad nie, maar die eindproduk lyk goed.”

Die egpaar het mekaar afgeneem en moes die selfoon monteer wanneer hulle saam in ’n skoot verskyn.

Van Rensburg het die redigering gedoen.

“Dis kort, dit loop maar 48 minute,” sê hy. “Ons voel as jy daardie tien liedjies geluister het, het jy die boodskap gekry. Ons is trots op die program en nie skaam vir hom nie.”

Hugo gesels tussendeur die liedjies.

“Een van my gunstelinge van Rina wat op haar eerste album verskyn het, is ’n liedjie met die naam ‘Hoe troos ek nou?’ Tientjie de Villiers het dit geskryf toe haar dogter haar man in ’n motorongeluk verloor het.

Sy is ook die een wat (ander treffers van Hugo) ‘Net ’n tikkie vryheid’ en ‘Wie sal kom nag sê?’ geskryf het.”

Jan de Wet het ‘Hoe troos ek nou?’ getoonset.

“Dis ’n vreeslik aandoenlike ding,” sê Van Rensburg.

“Dit gaan daaroor dat die spreker haar kind maklik kon troos toe sy klein was, maar noudat sy ’n grootmens is, is dit moeilik. ’n Ouer weet naderhand nie wat om te doen nie. En daar is mense met wie se kinders dit in hierdie tyd sleg gaan.”

Hugo het baie emosies in die inperking ervaar.

“Ek was in ’n stadium bekommerd. Jy weet, oor Riaan wie se werk as musikant opgedroog het. Ek het nie geweet hoe om hom te troos en hom te help nie. En ek dink daar is baie mense wat deur dieselfde emosies as ek gegaan het.”

• Die konsert begin op 27 September om 15:00. Kaartjies kos R120 per toestel. Dit is tot 4 Oktober beskikbaar om te kyk. Besoek tixsa.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Musiek  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.