Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rinél Day ‘het opgestaan’ ná egskeiding

Die sangeres Rinél Day het ná ’n stilte van vier jaar met ’n nuwe album na die verhoog teruggekeer. Sy het ná haar egskeiding ’n blaaskans geneem en gesels met Christiaan Boonzaier oor haar stiltetyd en die “persoonlike album” wat daaruit gespruit het.

Rinél Day het met ’n nuwe album na die verhoog teruggekeer. Foto: Donovan Roets Photography

Ek is regtig jammer om die rede te hoor oor hoekom jy ’n paar jaar stil was. Kan jy dié rede met ons lesers deel?

Ek het die keuse gemaak om ’n blaaskans te neem kort nadat ek en my eksman in 2016 uitmekaar is. Ek moes myself gaan leer ken en vind voordat ek weer heeltyds na die verhoog of die ateljee kon terugkeer.

My heel eerste vertoning nadat ons uitmekaar is, was so bitter emosioneel dat ek besluit het om eerder eers heel en sterk te word sodat ek die beste van my en my talent vir my gehoor kan gee. Ek wou nie my gehoor en aanhangers in die steek laat nie.

Dit was ’n tydsame proses vir my om te genees en myself te vind, want ek moes soveel van myself leer.

Wat het jy van jouself, jou loopbaan en jou toekomsdrome in dié stiltetyd geleer?

Ek het geleer hoe om meer geduldig te wees en hoe om meer op God se tyd as op my eie te fokus. Ek het geleer dat ek baie meer waaghalsig, spontaan en oop is, maar ek het ook geleer wat om nooit weer in my lewe toe te laat nie. Ek het geleer dat die liefde regtig baie mooi is en dat ek baie sterker is as wat ek gedink het. God het ons almal se paadjies lankal reeds uitgelê en ek weet dat die pad wat ek moes stap my tot op hierdie punt gelei het.

Die jongste enkelsnit op jou gelyknamige nuwe album is “Ek het opgestaan”. Op watter manier het (jou) musiek jou gehelp om weer op te staan?

“Ek het opgestaan” is vir my ongelooflik spesiaal. Ek het dit in 2017 geskryf op ’n baie hartseer aand. Ek het op my bed gelê en gebid – gesmeek eerder! – dat die Here my moet help om uit daardie donker plek te kom sodat alles net tot ’n mate van normaliteit kon terugkeer.

Soos ek gebid het, het die Heer my gelei om pen en papier te kry – en só is “Ek het opgestaan” gebore. Ek onthou ek het nog gesê: ‘Heer, hoe moet ek die liedjie sing as ek nog nie opgestaan het nie?’ En Hy het my gewys dat ek gaan, maar ek moet net geduldig wees. “Ek het opgestaan” het my geleer dat ek met geloof en hoop enigiets kan deurmaak.

Ek het opgestaan, jou derde album naas Rinél Day (2013) en Dit staan in die sterre (2014), word Woensdag uitgereik. Wat kan ons verwag?

Die album is ’n mengelmoes van pop-, dans- en country-klanke met mooi lirieke. Ek moet bieg dit is beslis ’n album wat oor die liefde gaan. Dit vertel die stories van hartseer én liefde ná hartseertye. Ek het ook ’n 1980’s-keurspel ingesluit, want ek is fanaties oor musiek uit die 1980’s en wou graag van my gunstelingliedjies met my aanhangers deel.

Dit is die eerste album waarop ek die meeste van die skryfwerk gedoen het, so dit is vir my ’n baie persoonlike album.

Benewens jou musiek is jy bekend vir jou blog en mooimaakwenke. Vertel ons meer daarvan – ook wat jou droom daarmee is.

Ek het my blog, www.mymillennial.co.za, aan die begin van die staat van inperking begin. Aan die begin was my doel om myself net besig te hou, maar toe begin ek dit meer en meer geniet. My doel is nou om vroue te leer hoe om teen ’n bekostigbare begroting modieus te wees en na hul velsorgroetines te kyk.

Ek wil graag eendag meer mense leer hoe om ’n blog te begin én ’n inkomste daaruit te genereer. Dit neem wel tyd, maar dit is die ding van besigheid – dit neem tyd!

  • Rinel Day se jongste album, Ek het opgestaan, word Woensdag uitgereik. Die gelyknamige enkelsnit is reeds op Google Play, Apple Music en Deezer beskikbaar. ’n Musiekvideo is ook reeds op YouTube uitgereik.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.