Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rocco maak teater van kerkmusiek
Pieter van den Berg, Rocco de Villiers en Estian Zietsman is van die kunstenaars in die produksie Amazing Grace.
Rocco de Villiers

In April is die pianis Rocco de Villiers nie net met ’n klavier op die verhoog nie, maar word hy vergesel van ’n doedelsak (Estian Zietsman), orrel (Pieter van den Berg), viool (Li­zelle le Roux), perkussie (Stephen Liebenberg) en die aktrise Lauren Botha in sy konsert Amazing Grace in die Pieter Toerienteater by Montecasino.

Die konsert is geïnspireer deur die musiek op sy album Beautiful Beautiful Hymns.

Dit sluit in “Abide with Me”, “The Holy City”, “Amaz­ing Grace”, “Ave Maria”, “Glory Glory Hallelujah”, “How Great Thou Art”, “Holy, Holy, Holy”, “O Holy Night”, “Onward Christian Soldiers” en “Silent Night”.

Botha beeld die karakters uit waarvan De Villiers praat.

Verlede jaar is besluit op ’n verhoogproduksie hiervan.

De Villiers wou iets teatraal hiervoor gehad het, veral omdat die Pieter Toerienteater uitgeknip is daarvoor.

Vir hom is dit nie genoeg om bloot die instrumente op die verhoog te hê nie, hoewel dit vir hom ’n geweldige lekker kombinasie van klank is.

“Kerkdienste kan nogal teatraal wees. As jy dink aan ’n Roomse mis – dis amper soos ’n opera waarheen jy gaan. Dis rook en kerse. Die hele omgewing is amper so dat as ’n mens na daardie musiek luister, dit deel is van die se­ren­ity. Dis visueel ongelooflik.”

Met sy navorsing het hy agtergekom die meeste van die gesange wat in die konsert uitgevoer word, is in die 19de eeu geskryf.

Dit bly egter steeds ’n ­“Rocco-konsert”, sê hy.

Hy beskryf die produksie as nog ’n stop in sy reis op soek na die mooiste musiek.

Hy praat daarin Engels en Afrikaans.

Die vertoning bevat ook baie van sy eie musiek.

“Toe ek my loopbaan begin het, het ek nie ’n verwysing gehad oor wat ek wou doen nie.

“Liberace en Richard Clayderman was al wat ek gehad het, en dit is nie slegte instrumentele voorbeelde nie, maar ek vind mense soek altyd ’n verwysing. Dis nie kritiek nie, dis net ’n waarneming.

“Die oomblik toe ek ’n wit pak aantrek en ’n ballade speel, sê hulle dis bietjie soos Richard Clayderman. Toe ek baie blink gegaan het, het mense gedink dit is bietjie soos Liberace.

“Vandag besef mense dis eintlik net Rocco wat sy deuntjies speel.”

Hy het aanvanklik nooit in sy konserte gepraat nie, maar dit het verander ná ’n vertoning van hom in Bloemfontein. Hy het ’n liedjie geskryf oor ’n hond van hom wat verdrink het. Ná die konsert kom ’n vrou toe na hom in die portaal en vertel hom dit is vir haar so ’n mooi stuk.

“Ek vertel toe vir haar die storie agter die stuk en sy sê vir my, maar my darling, jy moet vir ons die storie in die show vertel, want hoe gaan ons dit ooit uitvind?

“Dit was ’n vreeslik openbaring vir my. As ek my eie musiek maak, moet ek die mense vertel hoekom ek dit speel. Ek kan nie musiek speel as daar nie ’n storietjie resoneer in my hart of in my kop nie.”

  • Amazing Grace is van 6 tot 17 April in die Pieter Toerienteater, Montecasino. Kaartjies kos R100 tot R170 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.