Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Rockets’-tromspeler Molly Baron (68) sterf

Die tromspeler en sanger Molly Baron is in die ouderdom van 68 in Kaapstad dood.

Baron, ’n stigterslid van die legendariese Kaapse musiekgroep The Rockets, is volgens Daily Voice drie weke gelede in die Victoria-hospitaal in Wynberg opgeneem, waar hy vandeesweek dood is.

Hoewel hy na wat verneem word aan hoë bloeddruk gely het, is die oorsaak van sy dood en nader besonderhede daaroor nog nie bekend nie.

John Arthur Baron is in 1952 in Bellville gebore, volgens ’n profiel wat die joernalis Warren Ludski opgestel het. Hy het sy eerste musiekgroep begin toe hy net 11 jaar oud was, maar dié groep verlaat om hom by die groep Bell Beats aan te sluit.

In st. 6 (gr. 8) het sy pad met dié van Georgie Carelse en Robbie Jansen – destyds lede van die groep The Bismarks – gekruis. In 1967 het Baron, Carelse en Jansen, asook Carlo Carelse en Walter Brown, saamgespan en The Rockets gestig.

The Rockets het Vrydag Baron se dood met hierdie foto op hul Facebook-blad aangekondig. Van links: Jerry Watt, Cliffie Valentine, Colin (Bones) Delight, Frankie Brown en Baron. Foto: Facebook

Baron het saam met die groep dwarsoor Suid-Afrika, ook in onder meer Namibië en Engeland, opgetree, maar het veral in Kaapstad met albums soos Loving You, A Place in the Sun en Thank You Thank You ’n gewilde én geliefde instelling geword.

Hy het die groep vir ’n wyle in die 1980’s verlaat, maar later teruggekeer voordat hy in 2000 besluit het om hom heeltyds op sy sololoopbaan as gospel- en jazzmusikant toe te spits. Die solo-albums Brand New (2006) en Those Days (2016) het gevolg. Hy sou glo sy jongste solo-album kort voor Kersfees vanjaar uitreik.

Die veteraansangeres en liedjieskrywer Mynie Grové het Baron jare gelede in Johannesburg ontmoet en beskryf hom as “die dierbaarste, beste gentleman, wat ’n hart so groot soos ’n Golden Arrow-bus” gehad het.

“Ek was ’n groot aanhanger van The Rockets, want hulle het die musiek gespeel waarvan ek gehou het,” sê Grové aan Netwerk24.

“Dit was in die tyd van Brenda Fassie, hulle het dieselfde tipe funky fusion-musiek gespeel. Dit was nie net popmusiek nie. As jou boude nie geroer het wanneer hulle musiek gemaak het nie, dan was jy dood – en met Molly agter die tromme, kon jy nie anders as bewéég nie!”

Baron, ook ’n kranige kitaarspeler, tydens ’n fotosessie vir sy 2008-album, ‘Brand New’. Foto: Facebook

Grové en Baron het ook later in Kaapstad ’n vleuel van die destydse Vakbond vir Suid-Afrikaanse Musikante begin en saam ’n ateljee in Langstraat bestuur.

“Hy was werklik die wonderlikste vervaardiger en hy’t ’n vrygewige, goeie gees gehad. Sy glimlag het werklik ’n kamer belig.”

Die sanger en akteur Alistair Izobell, wat in die vroeë 90’s die voorsanger van The Rockets was, sê hy sal Baron ook altyd só onthou.

“Ek het hom in die laat 1980’s ontmoet, en ons het eintlik maar van ons eerste ontmoeting af lewenslange vriende gebly.

“The Rockets het die grondslag vir my hele loopbaan gelê – en daarin het Molly ’n leeueaandeel. Ons sou van laatnag tot vroegoggend gesels en hy sou ons met allerhande stories aanspoor. Hy het ’n aansteeklike lewensvreugde gehad.”

Hy was eintlik alles wat ’n tromspeler moet wees.
Alistair Izobell oor Molly Baron

Izobell sê ook Baron se vaardigheid as musikant sal hom altyd bybly.

“As hy agter sy tromme ingeskuif het, moes jy weet – dinge gaan nou ruk! Hy’t ongelooflike krag gehad. Hy’t ’n baie spesifieke manier gehad van speel wat hom beroemd gemaak het. Hy was eintlik alles wat ’n tromspeler moet wees.

“Ek het gister daaraan gedink toe ek by GrandWest staan, vir die berg met wolke daaroor kyk, en daar ’n ligstraal deurskemer. Ek kon toe net sê: Vaarwel, my vriend.”

  • Bykomende bronne: warrenludskimusicscene.com, rockets.co.za, People’s Post
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.