Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rockgroep van Kimberley op pad na Edinburg-fees

Jason Horseman, voorsanger van die rockgroep Gage van Kimberley wat in Augustus vanjaar vir die eerste keer by die Edinburgse fees in Skotland optree, sê hul rockmusiek is eerlik en vars. So eerlik dat hy steeds met ’n Suid-Afrikaanse aksent sing en nie ’n ander aksent probeer namaak nie.

Die groep vertrek Dinsdag na Engeland waar hulle ’n hele paar konserte gaan hou voordat hulle twee keer in Skotland by die Edinburg-fees optree.

Jason Horseman van die rockgroep Gage, wat eersdaags by die Edinburgse fees in Skotland optree. Foto: Charné Kemp

Horseman, wat ook die tromme speel, gaan saam met Johan Wooberg, sanger en kitaarspeler, by Cameron Anderson, baskitaarspeler en klankingenieur, in Engeland aansluit. Die permanente derde lid, Orishon White, wat onlangs aangesluit het, gaan nie saam nie.

“Orishon het ongelooflike talent, net soos baie ander Kimberliete.”

Horseman het in Kimberley se diamantryke stof grootgeword en woon steeds in die stad.

“Maar as jy nie jou vlerke sprei en oorsee gaan speel nie, gaan jy nie verder as Kimberley of Suid-Afrika kom nie. Jy moet jouself bemark en nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. Gelukkig is ek ook nie skaam nie. As ’n onafhanklike rockgroep wat onsself finansier, is dit nie maklik om die kollig te trek nie. Niemand het ons gebel om by die Edinburg-fees te speel nie, ons het hard gewerk en goeie kontakte oor die jare opgebou,” sê hy.

“Dit is verrykend om by internasionale musikante te leer. Hulle kan ’n mens aanspoor om nuwe klanke te vind. Ons musiek is gewild onder buitelanders en die Engelse is ook gek na rockmusiek. Ek wil nog die Duitse en Amerikaanse markte ontgin.”

Die lede van Gage is van links Johan Wooberg, Jason Horseman en Orishon White.

Horseman sê hy het in 2016 vir die ander lede gesê hulle moet in Engeland gaan speel.

“Ons het ’n oud-Kimberliet wat in Engeland bly, gevra om ’n konsert te reël. In 2017 het ons by die Drunken Monkey-musiekfees op een van die sekondêre verhoë gespeel. Ons musiek was so gewild dat dit aanhangers van die hoofverhoog af gelok het. Verlede jaar was ons die hoofkunstenaars. Gage gaan vanjaar weer op die hoofverhoog speel.”

Hulle gaan onder meer ook by die Aspatria-musiekfees speel, waarna hulle by die venues Stramash en Whistlebinkies in Edinburg optree. Hy neem hul eerste drie albums saam om te verkoop. Die vierde een is in wording.

“Ons verkoop die albums op geheuestokkies en aanlyn, maar CD’s verkoop beter. Mense wat konserte bywoon, hou van iets tasbaar. Dit is lekker om die voubiljet en lirieke te lees en daar is plek waar ons ons handtekeninge kan maak.”

Hy het as kind musiek ingeasem wanneer hy sy pa en ooms se musiekkonserte en oefensessies bygewoon het. Horseman skryf self die lirieke en musiek en het die groep in 2007 begin.

“ ’n Trefferliedjie moet ’n sterk melodie en akkoord of harmonie bevat.”

Sodra hulle van Skotland af terugkeer, gaan Gage by die Hartsfees in Kimberley optree. Horseman wil ook ’n konserttoer deur die Tuinroete organiseer.

Meer oor:  Kimberley  |  Vermaak  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.