Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Room van ATKV-skryfskool maak stem dik saam met sterre
Wyle Lucas Maree.

Drie deelnemers van die ATKV se Lucas Maree-liedjieskryfskool tree Sondag saam met kunstenaars soos Elvis Blue, Lize Beekman, Jannie du Toit en Thean Kotze in die Atterbury-teater op.

Die ATKV-skryfskool wil nuwe, oorspronklike Afrikaanse liedjieskrywers vestig. Dit is in Mei by die Afrikaans Hoër Seunskool se kultuursentrum in Pretoria aangebied en sal ’n jaarlikse instelling word.

Talle bekende musikante soos Coenie de Villiers, Anna Davel, Lize Beekman, Karin Hougaard, Hunter Kennedy en Jannie du Toit het die werksessie aangebied. Hulle is almal kunstenaars wat Maree, wat in 2011 dood is, as ’n groot musiekinspirasie beskou.

Volgens Nita Cronjé, bestuurder van kunste by die AKTV, is die kompetisie oorspronklik gemik op gr. 11- en gr. 12-leerlinge, maar studente het ook deelgeneem. Daar word verder beplan om die skryfskool volgende jaar wyer te maak.

Talle ander bekende musikante het ook aanbiedinge gedurende die skryfskool gelewer en uiteenlopende onderwerpe soos musiekregte, skarefinansiering, intellektuele eiendom, kopiereg en sosiale media is gedek. Die kunstenaars wat by die skryfskool betrokke was, het groot inspirasie by Maree as woordkunstenaar gekry.

Die deelnemers self het aan hul liedjies geskaaf onder leiding van Coenie de Villiers, Anna Davel en Beekman.

“Elkeen moes ’n paar weke ná afloop van die werksessie ’n MP3 aanstuur van sy of haar liedjie,” sê Cronjé.

Tacita Black

“Coenie, Lize en Anna het toe punte toegeken en so is die drie deelnemers eenparig gekies. Dit is dan ook hulle wat die naweek saam optree.”

Hulle is Jonathan Birch, Nicole du Plessis en Tacita Black.

De Villiers is opgewonde oor die liedjie-oes.

Jonathan Birch

“Ek is bly hierdie deelnemers kry die kans om te wys wat hulle kan bied. En wat ’n voorreg het hulle nie om saam met Lize Beekman op te tree, wat eintlik selde optree! Die talent is daar en dit moet ontgin word. ’n Mens moet net baie tyd en energie bestee, maar daar is wonderlike werk in Afrikaans.”

Die Atterburytrust is een van die borge van die skryfskool.

Nicole du Plessis

Die konsert begin Sondag om 16:00. Kaartjies kos R150. Bespreek by Computicket.

Die deelnemers deel hul ervaring van die skryfskool:

Jonathan Birch

“Die Lucas Maree-liedjieskryfskool het die nuut en die oud volmaak gekombineer. Hunter Kennedy met sy rowwe en kras manier van dinge doen, het ons die musiekbedryf se ins and outs met eerlikheid meegedeel. Groot indoenas soos Coenie de Villiers het die musikale klem en noodsaaklikheid van goeie lirieke geopenbaar. Dit en nog meer het alles ’n naweek van musieknuutskeppings en die ontginning van nuwe talent verseker.”

Nicole du Plessis

“Wat ’n voorreg om by topliedjieskrywers te kon kers opsteek! Die werkswinkel het my as liedjieskrywer uitgedaag en geïnspireer. Ek is baie opgewonde om op die gala-aand ’n verhoog saam met Suid-Afrika se topkunstenaars te kan deel en ek dank die ATKV en al die organiseerders vir so ’n geleentheid.”

Tacita Black

“Die Lucas Maree-liedjieskryfskool was baie goed vir my en ek het soveel baat daarby gevind. Ek was omring deur mense met dieselfde belangstellings en ambisies, tog was ons almal verskillend en kon ons baie by mekaar geleer. Die aanbieders van die werkswinkel het gehelp waar ek dit nodigste gehad het en ek kon my skryfwerk verbeter. Toe ek gehoor het dat ek gekies is om my liedjie op te voer, was ek in die sewende hemel. Ek is so dankbaar vir die geleentheid en hopelik is dit die begin van groter dinge vir my skryfwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.