Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Roxette se Marie dood ná stryd met kanker

Die Roxette-sangeres Marie Fredriksson is Maandag dood.

Die Sweedse popster (61) wat Roxette in 1986 saam met Per Gessle begin het, is dood ná ’n stryd van 17 jaar met kanker, lui ’n verklaring wat deur haar familie uitgereik is.

Sy is bekend om treffers soos “It Must Have Been Love”, “Joyride”, “Listen To Your Heart” en “The Look”.

Marie Fredriksson
Marie Fredriksson en Per Gessle op die verhoog.

Fredriksson, wat op 30 Mei 1958 in die suide van Swede gebore is, het haar musiekloopbaan in Halmstad begin waar sy met Gessle bevriend geraak het.

Met haar solodebuut in 1984 het sy een van Swede se gewildste kunstenaars geword.

In 1986 het sy en Gessle hul musikale kragte as Roxette saamgesnoer en hul eerste enkelsnit “Neverending Love” uitgereik. Hul debuutalbum, Pearls of Passion, is kort daarna uitgereik.

Met die liedjie “The Look” het hulle internasionale roem verwerf. Dit is op hul tweede album, Look Sharp!, opgeneem wat in 1989 uitgereik is.

Dit was hul eerste nommereen-treffer op die Billboard Hot 100-treffersparade. Dit is gevolg deur die treffers "Listen To Your Heart”, It Must Have Been Love” en Joyride”, asook verskeie radiotreffers soos “Dressed for Success”, “How Do You Do!”, “Sleeping In My Car”, “Dangerous” en “Fading Like A Flower”.

Fredriksson is in 2002 met ’n breingewas gediagnoseer waarvoor sy behandeling ontvang het. Sy het so goed herstel dat sy in 2009 weer ’n toer na verskeie verhoë oor die wêreld heen onderneem het. Nuwe albums het ook die lig gesien.

Sy het in 2016 haar optredes gestaak nadat haar dokters haar aangeraai het om op haar gesondheid te fokus.

“Tyd gaan so gou verby,” het Gessle oor sy sangmaat se dood gesê. “Nie so lank gelede nie het ons dae en nagte in my klein woonstelletjie in Halmstad na die musiek geluister waarvoor ons lief was en ons drome gedeel. En wat ’n droom kon ons uiteindelik deel!

“Dankie, Marie, dankie vir alles. Jy was ’n uitstaande musikant met ’n meesterlike stem en ’n ongelooflike vertolker.

“Dankie dat jy my swart-en-wit liedjies met die mooiste kleur geverf het. Jy was die wonderlikste vriend vir meer as 40 jaar.

“Dis ’n eer en ’n voorreg om te kon deel in soveel van jou tyd, talent, warmte, vrygewigheid en sin vir humor. Al my liefde gaan aan jou en jou familie. Niks sal weer dieselfde wees nie.”

Fredriksson word deur haar man, Mikael Bolyos, en twee kinders oorleef.

Meer oor:  Musiek  |  Roxette  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.