Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ruim dosis dodelike Calvi-doepa
Anna Calvi

Anna Calvi – Hunter(,,,, )

“Hoekom kan mense nie ’n bietjie meer elementaal wees nie?” vra D.H. Lawrence in sy bekende gedig “Elemental”. “Ek wens die mens kon weer sy balans tussen die elemente vind / En ’n bietjie meer vurig wees, so nie in staat om te lieg nie / Soos vuur,” skryf hy.

Daar is goeie rede om te vermoed mnr. Law­rence sou ’n groot aanhanger van die half-Britse, half-Italiaanse, volkome elementale Anna Calvi wees. Gaan luister net op You­Tube hoe sy Bruce Springsteen se “Fire” vlamblaas in jou oor.

Dat sy besluit het om hierdie een haar eie te maak, is byna vanselfsprekend in die lig van die opruiende “Desire” op haar skitterende debuut, Anna Calvi (2011): “And it’s the

fire, the fire, the fire / It’s heavenly, heavenly / Desire,”

sing sy in ’n ekstase so suiwer ’n mens wil dit amper onskuld noem.

Die invloedryke musiekregisseur Brian Eno het haar na aanleiding van hierdie debuut selfs “the best thing since Patti Smith” genoem. Calvi se gebiedende drif en meesleurende rockgesange het ook meer gereeld tot vergelykings met die Britse koningin van indie, PJ Harvey, aanleiding gegee. En die Harvey in haar hoor jy beslis, veral wanneer dié klassiek opgeleide violis haar kitaar elektries laat grom en huil. Met haar trefseker tweede plaat, One Breath (2013), het sy egter gewys sy is haar eie vreemde, magiese gevogelte – eweseer roofvoël as nagtegaal, engel en ondier.

Die vyf jaar wag vir haar derde plaat was die moeite werd: Hunter is nog ’n triomf. Sy slaan nie musikaal ’n radikaal nuwe rigting in nie, maar beter het sy nog nie geklink nie en wat Calvi bied, is so skaars dat ’n mens gewoon dankbaar is vir nog ’n ruim dosis van haar dodelike doepa.

Haar ontsagwekkende stem laat jou dink aan ’n rock ‘n’ roll- femme fatale soos die “Motorcycle black madonna / Two-wheeled gypsy queen” wat Bob Dylan in sy “Gates of Eden” beskryf, maar terwyl die meeste indie-sangers iets rou en ongekunsteld nastreef, is daar onmiskenbaar teatrale elemente in haar sang. Sy sing dikwels soos ’n wilde Shirley Bassey of ’n eietydse Peggy Lee liedere wat klaarblyklik vir die grootdoek of Broadway bestem is. Trouens, “As a Man” sou as Bond-temalied kon deug en wanneer “Swimming Pool”, wat glo deur ’n Hockney-skildery geïnspireer is, se retro-klanke soos die silhoeët van ’n Bond-meisie uit die 60’s na jou aangeswem kom, sien jy vir Sean Connery en Aston Martins en martini’s en ’n fabelagtige akwarium met piranhas en haaie in die herehuis van ’n booswig met ’n opgepofte wit Persiese kat op sy skoot. In die lieflike ballade “Away” klink sy weer soos ’n gewonde Alison Goldfrapp geteister deur ’n volmaan.

Op Hunter verken Calvi veral die vloeibaarheid van geslag en seksualiteit in liedjies soos “Don’t Beat the Girl Out of My Boy”, “As a Man”, en “Chain”. In die titelsnit en “Alpha” speel sy met stereotipes van manlikheid en vroulikheid en maak dit duidelik dis sy wat die kitaar so geweldig slaan – veral aan die onstuimige einde van “Indies or Paradise”. Dat ’n musiekregisseur ooit vir Calvi sou sê: “Nog ’n keer met meer gevoel,” is onvoorstelbaar. Soos lug, aarde, water en bo­wenal vuur kan sy blykbaar nie anders nie.

Topsnitte:

“As a Man”

“Hunter”

“Don’t Beat the Girl Out of My Boy”

“Swimming Pool”

“Away”

Meer oor:  Rock  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.