Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Russell maak op solo-debuut wilde heuning van slanggif

Die Kanadees Allison Russell se solodebuut, Outside Child, is die liriese poësie van soete oorlewing gesing deur ’n soepel stem wat vurig uit die asse hemelwaarts vlerk, skryf Danie Marais. Hy ken dit vier sterre toe.

Allison Russell se oorrompelende solodebuut, Outside Child, getuig van ’n verbete vasberadenheid om traumatiese kinderjare nie die laaste woord te gee nie. Ek kan aan geen ander album dink wat ’n bitter verhaal van seksuele mishandeling met soveel grasie en so triomfantelik vertel nie.

In die musiekwêreld van Americana is die veelsydige Russell lank reeds ’n gevestigde naam. Dié Kanadese sanger-liedjieskrywer en multi-instrumentalis was in die 2000’s lid van die eklektiese roots-rockgroep Po’ Girl en in 2012 het sy saam met haar latere man, TJ Nero (Jeremy Lindsay), die duo Birds of Chicago gestig. In 2019 het sy saam met onder andere Rhiannon Giddens as lid van die banjo-gedrewe kwartet Our Native Daughters die hoogaangeskrewe Songs of Our Native Daughters uitgereik, wat die Amerikaanse geskiedenis uit ’n swart, vroulike perspektief verken.

Die 41-jarige Russell het egter tyd nodig gehad om die punt te bereik waar sy haar eie lewensgeskiedenis kan sing. Sy is as die kind van ’n tienerma in Montreal gebore. Haar pa het voor haar aankoms vertrek en sy was in pleegsorg tot op die ouderdom van vyf, toe sy by haar ma en aanneempa gaan woon het. Wat sy daarna, totdat sy op 15 van die huis weggehardloop het, moes verduur, som sy in die blues-deurdrenkte soul van “4th Day Prayer” op:

Father used me like a wife

Mother turned the blindest eye

Stole my body, spirit, pride

He did, he did each night.

Russell het haar stiefpa in 2001 vir aanranding en verkragting aangekla, maar die resultaat was teleurstellend. “He took from me 10 years of childhood / Spent three years in jail at most,” het sy in 2009 in Po’ Girl se “No Shame” gesing.

Tog het sy destyds daarin geslaag om haar hoërskoolloopbaan sonder vaste blyplek te voltooi en dis haar veggees en uiteindelike oorwinning wat sy in die een treffende ballade ná die ander op Outside Child uitstippel.

Die teer openingsnit is ’n folk-jazz-ode aan Montreal, wat ’n ma vir haar was toe sy dikwels op parkbanke geslaap het:

Oh you Cathedrals

Your shadows felt like loving arms

I was your child, Montreal

You would not let me come to harm.

Die warm, glinsterende country-rock van “Persephone” is ’n huldeblyk aan ’n jeugliefde wat haar lewe telkens met slaapplek en omgee in daardie swerfjare gered het:

Tap tap tappin’ on your window screen

Gotta let me in Persephone

Got nowhere to go but I had to get away from him

My petals are bruised but I’m still a flower

Come runnin’ to you in the violet hour

Put your skinny arms around me, let me taste your skin.

In die opruiende “Runner” vertel sy hoe sy gevlug het na Vancouver en vryheid en redding in rock ’n roll gevind het:

Then I heard that Rock and Roll

Outside the South Hill Candy Store

Felt myself walking in

I was up above me, I was standing right beside me, oh

And I saw my deliverance.

Spirituele wedergeboorte word uit verskeie hoeke besing – in die uitstaande, mitologies gelaaide “Hy-Brasil”, in “Little Rebirth” en die meesleurende blues-rock-wiegelied van “Nightflyer”.

Die plaat herinner aan die Americana-klanke van die Cowboy Junkies en Giddens en die laatnagjazz van Madeleine Peyroux, maar die manier waarop Russell telkens naatloos tussen Engelse en Franse lirieke wissel en die eggo’s van Klezmer in haar sielvolle klarinetspel, wat verdriet en verlange soos kwelgeeste uit ’n liedjie soos “Hy-Brasil” dryf, gee haar solo-eersteling ’n eiesinnige, unieke sjarme.

Die country-rockster Brandi Carlisle was met die eerste hoor van dié album so aangedaan en beïndruk dat sy dadelik aangebied het om met die verspreiding daarvan te help. En dis maklik om te verstaan.

Met Outside Child het Allison Russell wilde heuning van slanggif gemaak. Dis die liriese poësie van soete oorlewing gesing deur ’n soepel stem wat vurig uit die asse hemelwaarts vlerk.

Top-snitte:

  • “Montreal”
  • “Nightflyer”
  • “Persephone”
  • “The Runner”
  • “Hy-Brasil”
Meer oor:  Musiek  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.