Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Russiese pianis (21) gaan weer SA gehore betower
Die Russiese “wonderkind” Daniel Kharitonov.

Op 21 jarige ouderdom het die Russiese pianis Daniel Kharitonov reeds ’n konsertloopbaan van kort duskant tien jaar agter die blad. Hy was maar 18 toe hy die eerste keer in Suid-Afrika opgetree het en in daardie stadium kon hy jou reeds vertel hoe die konsertsale in China, Rusland, Europa en die VSA lyk.

Enige ma sal haar hart vashou as sy sien hoe volgepak haar studentekind se dagboek met uitvoerings vir die volgende jaar is, maar Kharitonov is van ’n ander stoffasie as meeste pianiste van sy ouderdom.

Hy is nou weer in Suid-Afrika, het reeds saam met die Johannesburg Filharmoniese Orkes opgetree, speel op 29 Augustus Liszt se Klavierconcerto nr. 1 saam met die KZN Filharmoniese Orkes in Durban en op 5 September Rachmaninoff se Rapsodie op ’n Tema en Variasies van Paganini saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Bernhard Gueller, die hoofgasdirigent van die KFO, sal op die podium wees in Durban en Kaapstad. Hy het ook die stokkie geswaai toe Kharitonov drie jaar gelede in Kaapstad opgetree het.

Kharitonov het in ’n onderhoud met die aanlyn joernalis Peta Stewart gesê hy was “gedoem om ’n musiekkunstenaar te word”.

Die jong Daniel Kharitonov toe hy in 2015 die derde prys in die moordende Tsjaikofski Internasionale Musiekkompetisie gewen het.

Hy vertel hy was ’n paar maande oud toe sy ouers geskei is en sy ma, ’n professionele violis, genoodsaak was om hom na alle repetisies en konserte saam te neem. Op twee jaar het hy reeds die perkussie-ritmes op ’n speelding geklop, maar dit was daardie groot swart vleuelklavier wat hom gefassineer het.

Sy ma wou keer dat hy musiek studeer, maar verdoeming het intussen betowering geword en op vyf jaar het klein Kharitonov met “professionele studie aan ’n musiekskool” begin. Elf jaar later was hy die jongste deelnemer en pryswenner in die Tsjaikofski Internasionale Musiekkompetisie.

Kharitonov sê: “Ek is groot dank verskuldig aan my onderwyser, Valery Piassetski, wat my aangemoedig het om aan die kompetisie deel te neem én my in elke moontlike opsig deur die moeilike tyd ondersteun het. Om as 16-jarige mee te ding met bekende pianiste van tot 32 jaar oud, en om twee oudisie- en vier kompetisie-rondes deur te maak het ongelooflik baie van my geverg.

Die beloning is egter ook ongelooflik.”

Die musiekwêreld het van hom kennis geneem en optredes oor die wêreld heen het gevolg.

“Ek poog steeds om my spel tot volmaaktheid te slyp onder my pedagoog Dmitri Alexeev.” Hy is by die Royal College of Music in Londen waar Kharitonov sedert 2016 studeer.

Wat vertolking betref, skroom hy nie om by ervare musici kers op te steek nie. Hy luister gewoonlik na opnames van meesters soos Emil Gilels, Arthur Rubenstein en Wladimir Horowitz, laat die musiek deur hom vloei en skep dan iets nuuts.

Kharitonov is mal oor Rachmaninoff se musiek. Hy sê hy is gelukkig genoeg om vriende te wees met sy kleinseun, Alexandre Rachmaninoff, wat vertel sy oupa was erg gedissiplineerd en stiptelik.

“Ons het ’n Russiese gesegde ‘werk nou, plesier later’. Rachmaninoff het omtrent ál sy tyd aan komposisie en optredes gewy en omtrent net ’n halfuur per dag aan plesier.”

Kharitonov beskryf die Rapsodie as ’n kombinasie van teenoorgesteldes. Jy hoor die eggo’s van romantiese virtuose klaviermusiek teenoor ’n jazz-gees, ’n duidelike struktuur teenoor “ongebreidelde” emosies en dan is daar ook die “duiwelse” tema wat volgens oorlewering van Paganini besit geneem het.

Seker daarom dat die werk duiwels moeilik is, wat selfs Rachmaninoff erken het. “Nogal ’n moeilike een dié, ek sal moet begin oefen,” het hy in ’n brief geskryf.

  • 5 September om 20:00 in die Kaapstadse stadsaal. Bespreek by Artscape Dial-A-Seat, 021 421 7695, of https://tickets.computicket.com/event/ of Computicket. Die publiek word ook toegelaat by die kleedrepetisie om 11:00 en kaartjiehouers by die lesing voor die aandkonsert om 19:15.
Meer oor:  Klavier  |  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.