Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA bariton wen groot in kompetisie

Die Suid-Afrikaanse bariton Bongani Kubheka is Sondag in Gütersloh, Duitsland, aangewys as die naaswenner van die 18de Internasionale Neue Stimmen-sangkompetisie.

Kubheka het die tweede plek in die gesogte kompetisie se afdeling vir mans met die bariton Domen Krizaj van Slowenië gedeel en daarmee het hulle elk €10 000 in die sak gesteek.

Die baritonne is net-net deur die Chinese tenoor Long Long geklop. Die derde plek op die podium was vanjaar leeg weens Kubheka en Krizaj se gelykopuitslag.

“Dankie Neue Stimmen vir die tweede prys, ook dat julle my die geleentheid gegee het om myself uit te druk soos net ek kan,” het Khubeka kort ná die aankondiging van die pryswenners op sy Facebook-blad geskryf.

“Dit was werklik een van die beste ondervindings van my lewe, en dankie weer eens vir jul gasvryheid. Dit was reeds ’n ongelooflike prestasie om in die halfeindronde met ’n orkes (te sing), so om in die eindronde te wees en die tweede prys te kry, is ’n groot bonus.”

Sowat 1 500 sangers het vanjaar ingeskryf vir die kompetisie wat sedert 1987 opkomende operasangers in die kollig plaas en vir hulle ’n platform bied waarmee hulle ’n internasionale sangloopbaan kan begin. Dit word sedert 1989 elke tweede jaar deur die Bertelsmann-stigting aangebied.

Kubheka, wat in 2016 die Stuart Burrows-sangkompetisie in Brittanje en in 2018 die ATKV-Muziqanto-kompetisie in Suid-Afrika gewen het, was een van 42 sangers van 27 lande wat die strawwe oudisies geslaag het. Hy is saam met sy landgenote Luvuyo Mbundu (liriese bariton) en Nombulelo Yende (sopraan) na Duitsland genooi om sake in drie rondes uit te spook.

Mbundu het in die halfeindronde vasgeval. Yende het in die halfeindronde ’n gehoorprys gewen waarmee sy bladmusiek ter waarde van €500 by die uitgewer Bärenreiter-Verlag kan koop. Sy het ook tot die eindronde deurgedring en is deur haar wêreldbekende suster, die operaster Pretty Yende, op Facebook gelukgewens.

“Ek is so trots op jou,” het Pretty aan haar suster geskryf. “Geluk met die gehoorprys én dat jy ’n finalis in die Neue Stimmen-kompetisie was. Ek is verheug om te sien hoe jy blom.”

In die afdeling vir vroue het Anna El-Khashem (sopraan) van Rusland, Natalia Tanasii (sopraan) van Moldawië en Slavka Zamecnikova (sopraan) van Slowakye onderskeidelik die eerste, tweede en derde plek behaal.

Al die pryswenners sal op 5 Mei 2020 in ’n konsert in Berlyn optree.

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Sang  |  Bongani Kubheka  |  Luvuyo Mbundu  |  Pretty Yende  |  Neue Stimmen  |  Nombulelo Yende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.