Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA gebore ‘Les Mis’-liriekskrywer (95) sterf

Die Suid-Afrikaans gebore Britse joernalis en liriekskrywer Herbert Kretzmer is Woensdag vermoedelik by sy huis in Kensington in die weste van Londen dood. Hy was 95.

Herbert Kretzmer op die opening van ’n produksie van ‘Les Misérables’ op Broadway in 2014. Foto: Getty Images

Kretzmer, wat in 1925 in Kroonstad gebore is, het in die 1980’s wêreldbekend geword vir sy vertaling van én oorspronklike lirieke vir die Franse musiekspel Les Misérables se Engelse verwerking.

Dié musiekspel is ook in 2012 in ’n gelyknamige rolprent omskep, wat vir agt Oscars benoem is. Die liedjie “Suddenly” uit die rolprent het Kretzmer, Claude-Michel Schönberg en Alain Boublil ’n Oscar-benoeming vir beste oorspronklike liedjie besorg.

Benewens Les Misérables is Kretzmer ook onder meer bekend vir die lirieke van die musiekspele Our Man Crichton en The Four Musketeers, sy jare lange samewerking met die Franse sanger Charles Aznavour, en die lirieke vir die liedjies “Goodness Gracious Me”, “When You Gotta Go”, en “She” – laasgenoemde wat in 1999 deur Elvis Costello gesing en in die rolprent Notting Hill gehoor is.

Kretzmer word oorleef deur sy tweede vrou, Sybil, twee kinders uit sy eerste huwelik met Elizabeth Margaret Wilson, en twee kleinkinders.

Volgens ’n doodsberig op sy amptelike webwerf was Kretzmer se ouers Joods-Litause immigrante wat eers ’n kruidenierswinkel en later ’n suksesvolle meubelwinkel in Kroonstad bedryf het.

Hy het op die ouderdom van agt sy eerste rolprent, Gold Diggers, in die dorp se enigste bioskoop gesien, en dadelik op die “glans en swier” van Hollywood verlief geraak.

Ná sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Kroonstad het hy lettere en wysbegeerte aan die Rhodes-Universiteit gestudeer, waar hy ondanks geen musikale opleiding nie, liedjies soos “Moonlight in Hindustan” en “James James” vir kampusproduksies geskryf het.

Hy het Rhodes verlaat om ’n loopbaan as joernalis in Johannesburg na te jaag, eers by die publikasie African Mirror en toe by Sunday Express.

Hy het hom in 1953 in Parys, Frankryk, gevestig, voordat hy ’n jaar later brandarm na Londen verhuis het.

In die daaropvolgende drie dekades het hy hom as vermaakjoernalis en teater- en TV-resensent gevestig by onder meer Daily Sketch, The Daily Express en The Daily Mail, en onderhoude met van Hollywood se blinkste sterre gevoer, onder andere Frank Sinatra, Groucho Marx, Rex Harrison, Shirley MacLaine en Judy Garland.

Hy het in dié tyd nie sy musiek afgeskeep nie en het danksy sy lirieke die oog van die vervaardiger sir Cameron Mackintosh getref, wat hom genader het om die Engelse verwerking van Les Misérables te behartig. Die sukses van dié musiekspel het Kretzmer toegelaat om die joernalistiek vaarwel toe te roep en op die ouderdom van 60 hom heeltyds op die skryf van lirieke toe te spits.

Hy is op 31 Desember 2010 met ’n Orde van die Britse Ryk (OBE) vereer. Hoewel hy nooit sy graad voltooi het nie, het die Rhodes-Universiteit in 2011 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken, wat hy in persoon ontvang het.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: herbertkretzmer.com, ru.ac.za, theguardian.com, bbc.com, oscars.org
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.