Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA jazz-pianis (43) sterf aan Covid-19

Die Suid-Afrikaanse jazz-pianis Andre Petersen is Donderdag in die ouderdom van 43 aan Covid-19 dood.

Petersen, tot sy dood koördineerder van die jazz-program in die departement musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), is in ’n Johannesburgse hospitaal oorlede net drie dae nadat een van sy twee ouer broers, Denzil, begrawe is. Denzil is op 9 Julie vermoedelik ook weens die virus dood.

Volgens Petersen se vrou, die kontrabasspeler Chantal Willie-Petersen (43), is haar “geliefde Andre” op 21 Junie positief vir die virus getoets. ’n Dag later het Willie-Petersen en haar tweelingsuster, Denay, ook die virus opgedoen.

“Ons was vir weke binnenshuis – dit (die diagnose) was ’n reuse-skok,” het sy op Facebook geskryf.

“Bid asseblief vir hom, ook vir sy algehele herstel.”

Theodore Lawrence, ’n musikant en dekade lange vriend, het aan Netwerk24 gesê Petersen het in die hospitaal tekens van herstel getoon, maar daarna vinnig agteruitgegaan. Hy is eindelik Donderdag dood, op die dag wat sy vrou se 92-jarige ouma begrawe is.

Benewens sy vrou word Petersen deur hul agtjarige dogter, Zion, oorleef. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Petersen het in Kaapstad in ’n musikale familie grootgeword; albei sy ouers was koordirigente.

Hy het sy BMus-graad met ’n fokus op klassieke klavier aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf, maar hy het sy hart op jazz verloor en daarom sy studies vir sy meestergraad in jazz aan die Luca-kunsteskool in België voortgesit.

Hy is in sy studentedae met talle beurse bekroon, onder meer ’n Oppenheimer-beurs, en het onder meer die eerste plek in die Old Mutual Jazz Encounters-kompetisie behaal.

Hy het hom sedertdien as een van Suid-Afrika se voorste jazz-musici gevestig. Benewens optredes by jazz-feeste in Amerika, Frankryk, Italië, Japan, Mexiko, Nederland, Noorweë, Swede en Switserland, het hy gereeld by die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees, die Nasionale Kunstefees en Standard Bank se Joy of Jazz-fees geboer.

Hy was werklik een van ons beste pianiste, sê Lawrence.

“Dit is moeilik om hom in ’n boks te plaas, want hy het ’n agtergrond in lofsang gehad – sy kinderjare was baie godsdienstig, hulle was in die Morawiese Kerk – maar hy is klassiek opgelei.

“Hy het natuurlik op al dié ondervinding gesteun wanneer hy jazz gespeel het en mense het altyd opgelet hoe onberispelik sy spel is. Hy kon tegnies nie ’n vinger verkeerd sit nie.”

Petersen was ook ’n denker, sê Lawrence.

“Kon hy nou vir jou praat, maklik vir ’n uur aaneen! Hy het sy aandag altyd geheel en al op jou gefokus en sou ’n uur later skielik sê: ‘O gonna, ek moet eintlik êrens anders wees.’

“Hy was mal oor praat, maar hy het daarmee net gewys hoe diep hy omgee – vir mense, maar ook vir die samelewing en oor geregtigheid. Hy was ook ’n baie godsdienstige persoon, ’n beeldskone mens wat vinnig in ’n mens se hart gekruip het.”

Nandipha Mnyani, ’n musiek-argiefspesialis by die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro), stem saam.

“Ek huil al heeloggend – my hart weier net om die nuus te glo,” sê sy.

Mnyani en Petersen se paaie het aanvanklik gekruis toe hulle albei in die vroeë 2000’s studente aan die UK was.

“Ek het jazz-sang studeer, en hy was net een van daai pianiste wat altyd bereid was om jou te begelei.

“Ons paaie het weer gekruis toe hy by Wits aangestel is en ek en sy vrou op Samro se IAM-projek (inheemse Afrikamusiek-transkripsieprojek) saamgewerk het.”

Mnyani sê dit was die grootste eer om Petersen te ken, veral omdat hy so lief was vir God, sy vrou, sy dogter en sy familie.

“Verlede jaar het Andre en Chantal my die geleentheid gegee om ’n klas aan Wits-studente aan te bied oor my werk by Samro en my pad as musikant. Dit was die eerste keer dat ek ’n klas aangebied het – en ek het gevoel asof ek raakgesien word. Dit het my herinner dat ’n mens baie leer wanneer jy jou eie lewensverhaal met ander deel.

“Ek sal Andre altyd as ’n liewe, nederige mens onthou.”

  • Bykomende bron: musicinafrica.net
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.