Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA jazz-pianis (43) was ‘liewe, nederige’ genie

Die jazz-pianis Andre Petersen is Donderdag aan Covid-19 dood. Sy familie en vriende beskryf hom as ’n nederige genie en ’n omgee-mens, berig Christiaan Boonzaier.

Andre Petersen Foto: Facebook

Die Kaapse musikant en visuele kunstenaar Darren English was so ontroer deur die dood van Andre Petersen, een van Suid-Afrika se voorste jazz-pianiste, dat hy deurnag – van 20:30 tot 04:30 – ’n kunswerk geskep het om sy medelye aan die Petersen-gesin te betoon.

English bied nou kopieë van dié werk, bekend as Andre Petersen Lives, teen R500 stuk aan met die doel om 100% van die opbrengs aan Petersen se vrou, die kontrabasspeler Chantal Willie-Petersen (43), en hul dogter, Zion (8), te skenk.

Netwerk24 het Vrydag berig dat Petersen (43), tot sy dood koördineerder van die jazz-program in die departement musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), Donderdag in die Mediclinic Sandton dood is.

Volgens sy oudste broer, Winston, het die hele Petersen-gesin, asook Willie-Petersen se tweelingsuster, Denay, op 22 Junie die koronavirus opgedoen. Hulle het almal saam by hul huis in Randburg geïsoleer, voordat slegs Petersen einde Junie in die hospitaal opgeneem is. Die res van die Petersen-gesin het intussen van die virus herstel.

“Hoewel hy ook in die hoësorgeenheid herstel het, het hy ’n terugslag gehad en is hy dood omdat sy hart dit nie meer langer kon verduur nie, so hy het hartversaking gehad,” sê Winston aan Netwerk24.

Petersen is dood net drie dae nadat sy ander ouer broer, Denzil (57), in Kaapstad begrawe is. Denzil, ’n onderwyser, is op 3 Julie weens lewersirrose en ’n beroerte in die Victoria-hospitaal opgeneem. Hy het vermoedelik in die hospitaal die koronavirus opgedoen, wat eindelik ook sy lewe geëis het.

Petersen se begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

‘Musiek het hom gekies’

Petersen het in Surrey Estate, Kaapstad, in ’n musikale gesin grootgeword. Sy pa was ’n orrelis en koordirigent in die Morawiese Kerk en sy ma ’n musiekonderwyseres.

“Hy het nie musiek gekies nie, musiek het hom gekies, want wanneer hy smiddae ná skool tuisgekom het, was my ma voor die klavier en my pa op die trompet,” sê Winston.

“As my ma in die kombuis was, was my pa voor die klavier, so dit het ’n groot impak op hom gehad.

“Ek het ook gespeel, en ek onthou hoe hy altyd langs my op die klavier (op die klawers) ge-ping-pong het.”

Winston sê sy pa het vroeg reeds groot talent in sy jongste broer raakgesien en het hom daarom rondom die ouderdom van ses of sewe vir privaat lesse by die Universiteit van Kaapstad (UK) geneem.

Hy sou jare later sy BMus-graad met ’n fokus op klassieke klavier aan dieselfde instelling behaal, maar hy het sy hart op jazz verloor en daarom sy studies vir sy meestergraad in jazz aan die Luca-kunsteskool in België voortgesit.

Hy is in sy studentedae met talle beurse bekroon, soos die Oppenheimer-beurs, en het ook die eerste plek in die Old Mutual Jazz Encounters-kompetisie behaal.

Benewens optredes by jazz-feeste in Amerika, Frankryk, Italië, Japan, Mexiko, Nederland, Noorweë, Swede en Switserland, het hy gereeld by die Kaapstadse Internasionale Jazz-fees, die Nasionale Kunstefees in Makhanda en Standard Bank se Joy of Jazz-fees geboer.

Winston sê sy broer was ondanks al dié prestasies ’n plat-op-die-aarde-mens.

“Hy was een van die nederigste mense. Hy het ’n talent vir musiek gehad en gereeld opgetree, maar hy was altyd nederig en ’n respekvolle gentleman wat nooit ’n slegte woord oor iemand gerep het nie.

“Hy kon met konings en koninginne, asook enigiemand op straat praat – hy was deur almal geliefd. Ook toe hy jonk was en sy foto gereeld in die koerant verskyn het, het hy maar net rondgehardloop en op sy fiets gery asof niks gebeur het nie.”

‘Kon hy nou vir jou praat!’

Volgens Theodore Lawrence, een van Petersen se dekade lange vriende, kan die feit dat Suid-Afrika een van sy beste pianiste verloor het, nie genoeg benadruk word nie.

“Dit is moeilik om hom in ’n boks te plaas, want hy het ’n agtergrond in lofsang gehad – sy kinderjare was baie godsdienstig, hulle was in die Morawiese Kerk – maar hy is klassiek opgelei.

“Hy het natuurlik op al dié ondervinding gesteun wanneer hy jazz gespeel het en mense het altyd opgelet hoe onberispelik sy spel is. Hy kon tegnies nie ’n vinger verkeerd sit nie.”

Petersen was ook ’n denker, sê Lawrence.

“Kon hy nou vir jou praat, maklik vir ’n uur aaneen! Hy het sy aandag altyd geheel en al op jou gefokus en sou ’n uur later skielik sê: ‘O gonna, ek moet eintlik êrens anders wees.’

“Hy was mal oor praat, maar hy het daarmee net gewys hoe diep hy omgee – vir mense, maar ook vir die samelewing en oor geregtigheid. Hy was ook ’n baie godsdienstige persoon, ’n beeldskone mens wat vinnig in ’n mens se hart gekruip het.”

Nandipha Mnyani, ’n musiek-argiefspesialis by die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro), stem saam.

“Ek huil al heeloggend – my hart weier net om die nuus te glo,” sê sy.

Mnyani en Petersen se paaie het aanvanklik gekruis toe hulle albei in die vroeë 2000’s studente aan die UK was.

“Ek het jazz-sang studeer, en hy was net een van daardie pianiste wat altyd bereid was om jou te begelei.

“Ons paaie het weer gekruis toe hy by Wits aangestel is en ek en sy vrou op Samro se IAM-projek (inheemse Afrikamusiek-transkripsieprojek) saamgewerk het.”

Mnyani sê dit was die grootste eer om Petersen te ken, veral omdat hy so lief was vir God, sy vrou, sy dogter en sy familie.

“Verlede jaar het Andre en Chantal my die geleentheid gegee om ’n klas aan Wits-studente aan te bied oor my werk by Samro en my pad as musikant. Dit was die eerste keer dat ek ’n klas aangebied het – en ek het gevoel asof ek raakgesien word. Dit het my herinner dat ’n mens baie leer wanneer jy jou eie lewensverhaal met ander deel.

“Ek sal Andre altyd as ’n liewe, nederige mens onthou.”

‘Hy was the real deal

Petersen was ook ’n groot inspirasie vir jong musikante, sê English, wat net 13 was toe sy pad as jong trompetspeler met dié van Petersen gekruis het.

“Ek onthou hoe ek rondom 2005/6 in die Baxter-teater met die Sekunjalo-groep opgetree het en Andre net daarna met Shannon Mowday sou optree. Ek was ná ’n solo-cadenza agter die verhoog, toe kom hy giggelend na my toe, gee my ’n drukkie, en sê: ‘Hei, jong broer, ons moet beslis eendag saam musiek maak.’ Ek het vir lank daarna nog by my skoolvriende daaroor gespog.

“Hy was ’n genie en kon soos niemand anders nie voor die klavier toor! Hy was werklik the real deal.”

Die kunswerk wat Darren English geskep het. Kopieë daarvan is teen R500 beskikbaar; die opbrengs word aan die Petersen-gesin geskenk. Foto: Darren English / Facebook

English en Petersen het sedertdien kontak behou en ’n vriendskap gesmee. Hul laaste gesprek was net ’n paar maande gelede oor moontlike konserte en slypskole in Atlanta in die Amerikaanse deelstaat Georgia waar Petersen ’n betrekking aan die Universiteit van Georgia oorweeg het.

Hy sê hy was geskok toe hy van sy boesemvriend se dood hoor en het hom daarom na die pianiste Kyle Shepherd en Mark Fransman gehaas om saam musiek te maak en Petersen se impak op hul onderskeie lewe te deel.

Hy het daarna die idee gehad om ’n kunswerk, wat gegrond is op een van Petersen se Facebook-foto’s, te skep en kopieë daarvan op die Facebook-blad https://www.facebook.com/englishdesignedTM te koop aan te bied in ’n poging om die res van die Petersen-gesin te steun. R10 000 is binne net twee dae ingesamel.

“Ek sal die kunswerk self by mense in Kaapstad aflewer. Ek het reeds ’n afleweringsooreenkoms gesluit vir belangstellendes buite Kaapstad maar in Suid-Afrika wat dit ook wil koop. Ek werk nog aan ’n plan vir bekostigbare aflewering aan belangstellendes wat buite Suid-Afrika woon.

“Ek het aan myself én die Petersen-gesin belowe dat kopieë van die werk vir die res van my lewe beskikbaar sal wees en dat 100% van die inkomste aan hulle betaal sal word.”

  • Bykomende bron: taggpetersenduo.com
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.