Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA jazzlegende onttrek van fees weens koronavirus
Abdullah Ibrahim Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse jazzlegende Abdullah Ibrahim (85) het “in die lig van kommer oor reis weens die koronavirus” besluit om aan die 21ste Kaapstadse Internasionale Jazzfees (CTIJF) te onttrek.

Die aankondiging is Saterdag deur Billy Domingo, feesdirekteur, in ’n inskrywing op die CTIJF se Facebook-blad gemaak.

“Ons respekteer die kunstenaar se besluit,” sê Domingo in die inskrywing.

“Die Kaapstadse Internasionale Jazzfees verbind hom steeds daartoe om die beste jazz en jazz-verwante musiek na die Moederstad te bring.

“Die fees gaan soos beplan op 27 en 28 Maart 2020 voort, en ons gaan so gou moontlik ’n gepaste plaasvervanger (vir Ibrahim) aankondig.”

Die CTIJF vind vanjaar in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaas, en bring volgens hul webwerf, www.capetownjazzfest.com, musici van Suid-Afrika, Switserland, Duitsland, Swaziland, Indië, Nigerië, die Verenigde Koninkryk, Kenia, die Verenigde State van Amerika, Indonesië en die Ivoorkus byeen om jazzmusiek te vier.

Volgens die Facebook-inskrywing werk die feesbestuur nou saam met die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Wesgro (die Wes-Kaapse handelsbevorderingsnetwerk) en Kaapstad-toerisme, en wil hulle “feesgangers herinner dat daar tans geen advies is wat reis na Suid-Afrika afraai nie”.

Die inskrywing volg minder as ’n week nadat die CTIJF-bestuur sy rug op die Suid-Afrikaanse sanger en rapper Sjava gekeer en sy vertoning op vanjaar se fees geskrap het.

Channel24 berig die stap is waarskynlik gedoen nadat Sunday World verslag gedoen het oor hofdokumente, waarin die Suid-Afrikaanse sanger Lady Zamar – wat ook vanjaar by die fees optree – hom (Sjava) glo van verkragting en mishandeling beskuldig het.

Die bestuur van die CTIJF het daarna in ’n twiet gesê dat Sjava se vertoning “weens die ernstige aard van die aantygings” geskrap is.

Sjava het in ’n twiet die bewerings teen hom ten sterkste ontken.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Musiek  |  Koronavirus  |  Sjava  |  Lady Zamar  |  Jazz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.