Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA kunstenaars: ‘Dis tyd vir ubuntu’ en liedjies skryf

Dit is tyd om ubuntu uit te leef, sê die liedjieboer, Anton Goosen, een van talle sangers wat nie kan optree nie nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag ’n 21 dae lange staat van inperking weens die Covid-19-pandemie aangekondig het.

Anton Goosen

“Jy moenie net aan jouself dink nie, jy moet ook aan jou naaste dink.”

Die staat van inperking begin Donderdag om middernag.

Sangers, liedjieskrywer en musikante verwyl egter hul tyd in afsondering baie produktief en hulle luister ook na ander kunstenaars se musiek.

“Die hele jaar se beplanning is onderstebo,” sê Goosen.

“Soos die Engelse sê: Bite the bullet.”

Goosen en sy vrou, Estie, is reeds sowat ’n week in afsondering.

“Ek luister baie wyd – van die ou meesters tot die nuwe indie-bands, soos die Dixie Chicks. Daar is honderde name om te noem. Dit hang ook van ’n mens se gemoedstoestand af,” sê hy.

“Maar die meester Bob Dylan is daar. Leonard Cohen, Van Morrison, Paul Simon, Willie Nelson en Bruce Springsteen. En tussendeur die stilte, die see of dorpsgeluide.”

Goosen het beplan om op 4 April na die Skots-Ierse folk rock-groep The Waterboys te gaan luister, maar hy het agtergekom dat hy ook daardie aand moet optree.

“En nou tree nie ek óf die Waterboys op nie.”

Hy werk tuis aan sy eie musiek.

Jan Blohm

“Ek skryf nuwe goed en speel kitaar, en ons doen die finale patches aan die biografie (oor Goosen) wat Hanlie Retief geskryf het,” sê hy.

Charlie Smidt

“Dis interessant dat ons as kunstenaars nou in die tyd van WhatsApp en sosiale media geneig is om mekaar te bel en mekaar op te beur, en dis ’n goeie ding.”

Goosen probeer om sosiale media te vermy omdat baie fopnuus versprei word.

“Ek kyk wel ’n bietjie televisie wanneer die president praat. Dit tref ons almal – nie net musikante nie – van bo tot onder. Dis nou tyd vir saamstaan en om baie verantwoordelik te wees.”

Die sanger Jan Blohm luister veral baie radio.

“Ook om te hoor waarna die res van die wêreld op die oomblik luister. RSG of Jacaranda of wat ook al. Voorheen het ek graag na blues en soul geluister.”

Blohm gaan die volgende drie weke benut om sy nuwe album, Jenny, klaar te skryf.

Hy en die sanger Francois van Coke werk ook saam aan ’n liedjie.

Blohm het onlangs die enkelsnit “Jenny” uitgereik.

“ ‘Jenny’ is ’n hele storie – amper soos ’n hele fliek of ’n boek, die verhaal van Jenny. Ek het gedink om te skryf aan die storielyn,” sê Blohm.

“Ek speel maar my eie kitaar as ek toonsettings doen. Ek skryf wel nie met ’n kitaar nie. Ek skryf in my kop die laaste paar jaar. Ek sal die woorde en die melodieë net vir myself sing deesdae.”

Charlie Smidt, hoofsanger van die rockgroep Beeskraal, luister graag na Southern rock, outlaw country en Southern gospel country soos Johnny Cash, Jason Isbell, Whiskey Myers en Blackberry Smoke.

Beeskraal werk intussen aan ’n nuwe album.

“Dis ons 21-jaar-herdenkingsalbum, hoewel die band al 22 jaar bestaan. Dis ’n soort van ’n huldeblykalbum met ons eie verwerkings van bekende liedjies deur kunstenaars soos Valiant Swart, Koos Kombuis en Anton Goosen - ons ikone. Daar is ook nuwe, oorspronklike liedjies.”

Beeskraal het op 15 Maart die laaste keer opgetree. Hulle het die verhoog met Spoegwolf gedeel.

Sangers
Laurinda Hofmeyr Foto: Hans van der Veen
Hans van der Veen

Die sangeres Laurinda Hofmeyr, wat verlede week vermoedelik die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar was om ’n konsert regstreeks op haar Facebook-blad te stroom, luister tans “waarna 15-jariges” luister.

“Ek is nou in Stilbaai saam met my 15-jarige dogter en ’n maatjie van haar. As ons terugry na die Paarl (waar sy woon) sal ek, as deel van die groot huisregpakplan, waarskynlik na ’n klomp ou gestoorde CD’s luister. Ook na Bobby McFerrin, Johann Sebastian Bach en na die interessante musiek wat my 25-jarige broerskind, Joanie Hofmeyr, nou pas in afsondering in New York aanmekaargeslaan het,” sê sy.

“Ek sien uit daarna om besig te raak met musiekdinge wat ek graag wil klaarmaak en ek hoop om die muse harder te hoor praat terwyl ek al om die klavier bly vir drie weke . . . ’n mens weet nooit.”

Die sanger Loki Rothman skaal tans af by die huis.

Loki Rothman

“Ek luister op die oomblik na Coldplay se nuwe album, Everyday Life. Ek het gedurende die vakansie baie tyd aan my nuwe album, Op my pad, bestee, so dit is lekker om nou my skouers ’n bietjie te laat sak. Dis erg dat ek nie my toere kan doen soos beplan nie, maar my liggaam het wel die rus nodig. Dit kan ek voel. As jy jou eie liedjies skryf en 70% van die album self vervaardig, kan dit nogal stresvol raak.”

Hy sonder die liedjie “Champions of the World” op Coldplay se album uit.

Rothman sê hy luister nie na sy eie musiek nie hoewel hy trots voel wanneer hy dit iewers hoor.

“Dan dink ek ek kan nie wag om weer op te tree en live te speel nie. Ek hoor die liedjies op baie mense se Instagram-stories en ek is so dankbaar vir die ondersteuning wat die nuwe CD van die publiek af kry.”

Die sangeres Andriëtte, wie se nuwe album, Hartsland, in April uitgereik word, luister na liedjies soos “Let It Be” van die Beatles en “Everthing’s Gonna Be Alright” van Bob Marley.

“En Hillsong, wat jou rustig maak en jou leer waaroor die lewe gaan. Ons is hier vir mekaar. My man is ‘n biokinetikus, so hy hou ‘n tuisgim vir ons. Hy gaan vir ons ‘n bietjie oefeninge gee in hierdie tyd wat ‘n mens geneig is om meer te eet. Jy probeer om jou huis te geniet en te waardeer. Ek hoop dis ‘n tyd wat ons nader groei aan mekaar.”

Andriëtte
Andriëtte Foto: Salomien Smal
Meer oor:  Anton Goosen  |  Loki Rothman  |  Ubuntu  |  Covid-19  |  Konserte  |  Staat Van Inperking  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.