Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA kyk miljoen keer na ‘Boere-boyband’ se ‘Vleis’

Die musiekvideo van die liedjie “Wys jou vleis” deur die musiekgroep JAN JAN JAN is in net meer as ’n maand meer as ’n miljoen keer op YouTube gekyk.

Die groep, wat beskou word as Suid-Afrika se eerste “Boere-boyband”, het wyd opslae gemaak toe hul eerste enkelsnit op 25 Oktober vanjaar uitgereik is.

Die trio – bestaande uit Jaco Pitzer (in die groep bekend as FrisJan), Riaan Venter (LangJan) en Heinrich Rautenbach (KleinJan) – was geheel en al oorbluf deur die reuse-reaksie wat die uitreiking van die liedjie aanvanklik gekry het.

Nou, sê hulle, kan hulle nie hul oë en ore glo dat hulle die miljoenkerf op YouTube verbygesteek het nie.

“Soos die Engelse sê: Surreal!” sê LangJan. “Ons almal het die projek van die begin af baie geniet, en natuurlik het hierdie positiewe energie bygedra tot die sukses van die liedjie en die video tot dusver.”

Volgens hom het hulle tog verwag dat die video gewild sal wees omdat hulle dit “verskeie kere voor die bekendstelling aan uitgesoekte kliënte en vriende gewys (het) om die impak en humor te toets”. Hulle het egter nie gedink die video sal so gewild wees soos dit nou is nie.

Suid-Afrika se eerste ‘Boere-boyband’, JAN JAN JAN, is van links na regs: Riaan Venter (LangJan), Jaco Pitzer (FrisJan) en Heinrich Rautenbach (KleinJan). Foto: Twitter

“Die spoed waarteen die video se kyke (op YouTube) gegroei het, het ons wildste verwagtinge oortref – nog net ‘Boerepompie’ (deur die sanger Ricus Nel en kletsrymer Snotkop) het ‘Wys jou vleis’ getroef,” sê LangJan.

FrisJan sê die span agter die Boerboel Wear-klerereeks, wat die idee vir die groep bedink en ook die liedjie met lede van DJ Ossewa geskryf het, is reeds aan die skaaf aan ’n opvolgliedjie.

“Die Boerboel-span het eintlik al begin beplan aan die opvolgliedjie terwyl ons ‘Wys jou vleis’ afgerond het,” sê hy. “Ons dink dit gaan ook ’n treffer wees wat die voete sal laat jeuk om op die dansvloer te kom.”

KleinJan sê hulle ervaar natuurlik nou druk om “iets te lewer wat kan meeding met die sukses van ‘Wys jou vleis’ ”.

“Ons gaan egter nie die proses afjaag nie. Dit (die opvolgliedjie) sal vroeg volgende jaar met ’n musiekvideo uitgereik word,” sê hy.

“Ons is tans besig om die (nuwe) liedjie vir talle mense te speel om terugvoering te kry en tot dusver is almal dit eens dat dit ’n volwaardige opvolger vir die eerste enkelsnit gaan wees. Veral die manne in die stad wat so graag iewers ’n plaas wil besit, sal byval by die nuwe liedjie vind.”

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.