Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA musici en ander neem album vir eenheid op

’n Groot groep Suid-Afrikaanse en internasionale musikante het saamgespan om ’n album op te neem wat ’n boodskap van samehorigheid en hoop bring.

Dié 20 instrumentaliste en sangers noem hulself The Solidarity Express en hul eerste album is Radio Ubuntu.

Die lede van The Solidarity Express. Foto: Verskaf

’n Mengelmoes van klanke, style en genres is in die 14 liedjies en bonus-snit vervat. Jy hoor van mbaqanga, gospel, reggae, rock en pop tot country en boeremusiek, maar al die liedjies het dieselfde tema – samehorigheid en empatie tussen mense en nasies.

Volgens die kunstenaars het hulle op die projek besluit omdat musiek “ ’n belangrike rol in die emosionele en maatskaplike welstand van ’n gemeenskap” speel.

Die konsep is te danke aan Dan Chiorboli en Phil Manzanera en vir die vervaardiging het hulle André Kriel betrek.

Die musikante wat deel is van die projek, is Chiorboli (perkussie), Kriel (The Black Cat Bones – kitaar en sang), Mpho Koopedi (The Muffinz – klawerbord en sang), Black Moses Ngwenya (The Soul Brothers – Hammond-orrel), Femi Koya (Femi Koya Band – saxofoon en sang), Tebogo “AusTebza” Sedumedi (baskitaar en sang), Peter Djamba (DRC – tromme), Justin Sasman (Bombshelter Beast – tromboon, tuba, trompet en trekklavier), Jack Lerole jr. (penniefluitjie en dwarsfluit), asook die sangers Ann Masina (Soweto Gospel Choir), Tamani Mbeya van Malawi en Cindy Alter (Clout).

Twee genooide kunstenaars, Kobus de Kock jr. (The Black Cat Bones) en David “Qadasi” Jenkins, het ook ’n bydrae gelewer.

Die internasionale kunstenaars is Manzanera, bekend vir sy werk saam met Roxy Music en Pink Floyd, Tim Finn, die Kubaanse jazz- en salsa-sterre Michel Herrera en Madre Tierra van Havana, hoofstad van Kuba, N’Faly Kouyate van Guinee in Wes-Afrika, die Italiaanse sterre Cisco Bellotti van die Modena City Ramblers en die ikoniese kletsrymer Jovanotti.

John Lindemann het die opnames en finale klank behartig.

Kriel het die eerste enkelsnit, “The Healing”, geskryf, ’n opgewekte liedjie waarin kwela, Afro-pop en isicathamiya saamsmelt.

Die lirieke gaan nie net oor die eenwording van mense en nasies wêreldwyd nie, maar ook oor saamstaan teen die Covid-19-pandemie, terwyl die refrein die mantra “laat genesing begin” beklemtoon.

Kyk die "The Healing"-video hier.

Radio Ubuntu verskyn op die bekende digitale platforms.

Meer oor:  Musiek  |  The Solidarity Express  |  Radio Ubuntu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.