Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA musici in buiteland nie stil weens Covid-19

Inperking weens die koronavirus kniehalter musici wêreldwyd, maar dit het hulle nie stilgemaak nie. Hier vertel enkele Suid-Afrikaanse kunstenaars in die buiteland aan Elretha Britz hoe hulle die situasie hanteer en met watter planne hulle vorendag kom om steeds musiek te maak.

Pieter SchoemanFoto: Foto24

Pieter Schoeman, konsertmeester van die Londense Filharmoniese Orkes (LPO) en professor aan die Trinity Laban-konservatorium

“Op 11 Maart het die LPO ’n simfoniekonsert met die superster-violis Anne-Sophie Mutter as solis uitgevoer. Dit was ons laaste konsert van die seisoen, maar ons het dit nie toe geweet. Ons het wel dieselfde aand uitgevind ons prestige-toer na Wene, München, Frankfurt, Luxemburg en ander stede is afgestel. Dit was 36 uur voordat ons sou vertrek.”

Schoeman sê ook ’n strykkwartetkonsert met Mutter het in die slag gebly, maar hy en twee LPO-kollegas het besluit om Beethoven se Harpkwartet saam met haar op te neem, elkeen in sy eie huis, wat ’n uitdaging van ’n ander aard is.

“Net twee uur voor die uitsending was ons opname gereed en het binne ’n paar uur meer mense bereik as wat die konsert sou.”

Dit is op 26 Maart op YouTube uitgereik op dieselfde dag wat Mutter bekend gemaak het dat Covid-19 by haar gediagnoseer is.

Schoeman het intussen sewe “uitstekende Suid-Afrikaanse musici-vriende” oorreed om op 19 September Mendelssohn en Enescu se stryk-oktette in die Endlersaal in Stellenbosch saam met hom uit te voer.

“Vliegkaartjies is klaar gekoop vanaf San Francisco, Londen en uit Duitsland. Ek hoop hierdie unieke konsert sal wel plaasvind.”

Schoeman sê voorts hy het nou vrye tyd wat hy nog nooit in sy hele lewe beleef het nie en gebruik dit om saam met sy gesin te wees en in die tuin te werk.

Avigail Bushakevitz en haar man, die altviolis Ernst-Martin Schmidt, en hul twee dogtertjies in hul tuin buite Berlyn.

Avigail Bushakevitz, eerste violis in die Berliner Konzerthausorchester

“Ek het so uitgesien na ons uitvoering van Mahler se Simfonie nr. 3 dat ek kaartjies vir vriende gekoop het om te kom luister, maar ná twee dae van intensiewe oefening is dit alles gekanselleer.”

Sedertdien is al hul konserte afgestel, insluitende dié met die dirigente Leonidis Kavakos en Christoph Eschenbach. Sy sê sy sou baie graag ten minste met hul stryktrio wou oefen, maar tot 4 April mag hulle nie hul huise verlaat nie.

Bushakevitz sê sy is dankbaar dat sy ’n permanente pos het en dus nie ’n geldverlies ly nie, en ook dat hulle ’n tuin het waar sy en haar man, die altviolis Ernst-Martin Schmidt, se twee dogtertjies kan speel. Sy het nou ook tyd om haar geleende 18de eeuse Barokviool af te stof en Bach se Goldberg-variasies vir stryktrio in te studeer. Die trio bestaan uit Bushakevitz, Schmidt en die Franse tjellis Andrea Casarrubios.

Bushakevitz het op 22 Februarie saam met die pianis Albie van Schalkwyk in Kaapstad opgetree waaroor sy, veral in retrospek, besonder dankbaar is.

Sy sê ten slotte: “ ’n Paar dae gelede het alle musici in Duitsland Beethoven se Ode an die Freude op straat of in hul vensters gespeel – ons bure op ’n mondfluitjie.”

Ben Schoeman Foto: Argief
Golda Schultz Foto: Argief

Ben Schoeman, pianis en klavierdosent aan die Universiteit van Pretoria wat in Londen woon

“Ál my konserte tot einde Junie is gekanselleer. Ek sou verlede week Ravel se Klavierkonsert in G hier gespeel het en is hartseer nadat soveel werk in die voorbereiding ingegaan het.

“Maar ten minste gee dit my tyd om 12 konsertprogramme vir komende optredes af te rond. Ek beoog om heelwat aanlyn uitvoerings op verskeie sosialemedia-kanale soos YouTube, Facebook en Instagram te plaas. Ek sien ook daarna uit om kamermusiek en kunsliedere in die komende weke op digitale wyse met mede-musici in ander wêrelddele op te neem en in die openbare domein te plaas.”

Golda Schultz, vryskutsopraan, woon in München

“Ek is nie te erg geraak deur kansellasies nie, net een konsert, een repetisieproses en ’n opera, maar vir talle ander sangers is dit ’n uiters moeilike tyd. Ek weet van baie talentvolle sangers wat dit oorweeg om die beroep te verlaat omdat die vryskutlewe eenvoudig te onseker is. Om te dink iets so klein (soos ’n virus) kan sulke enorme gevolge hê.

“Terwyl hierdie toestand vir wie weet hoe lank gaan duur, hou ek my besig met goeie boeke, goeie flieks en om nuwe vaardighede aan te leer sodat ek my huis aan die einde van die inperking ’n beter mens kan verlaat as wat ek dit binnegegaan het.”

Meer oor:  Musiek  |  Koronavirus  |  Klassieke Musiek  |  Covid-19  |  Pieter Schoeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.