Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA musici oorweeg weens pandemie ander loopbane

Die Covid-19-pandemie het talle musici in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gedwing om ’n loopbaanverandering te oorweeg. Die sanger Jak de Priester en musikant Corneille Hutten vertel aan Christiaan Boonzaier hoe hulle in onderskeidelik die eiendomsmark en die koffie- en boubedryf die pot aan die kook hou.

Jak de Priester
Jak de Priester. Foto: Verskaf

Byna die helfte van werkers wat in Suid-Afrika ’n lewe uit die aanbied van regstreekse konserte maak, oorweeg dit om die musiekbedryf weens die finansiële impak van die Covid-19-pandemie vaarwel toe te roep.

Dít is een van die sleutelbevindinge in ’n verslag getiteld Impact Analysis: Live Music and its Venues and the South African Economy during COVID-19, wat deur die Suid-Afrikaanse Kultuurobservatorium (Saco) uitgereik is.

Die verslag bestudeer die impak van die pandemie op enigiemand wat ’n hand in die aanbieding van ’n regstreekse konsert het, byvoorbeeld sangers en musikante, promotors, bemarkers, agente en enige personeel in ’n venue waar regstreekse konserte aangebied word. Navorsers het 687 belanghebbendes in die bedryf in al nege provinsies se ondervindinge via ’n aanlyn peiling ingewin en ontleed.

Benewens die bevinding dat 47% van al dié werkers ernstig daaraan dink om die bedryf te verlaat en ’n nuwe loopbaan na te jaag, is ook die volgende bevind:

  • Hoewel die meerderheid van die deelnemers aan die peiling reeds vir langer as vyf jaar in die bedryf werk en daarom gevestig in hul loopbaan is, het 90% van hulle inkomste weens die pandemie verloor. 50% is tussen die helfte en al hul inkomste kwyt.
  • 88% van die deelnemers het probeer om aanlyn konserte aan te bied, maar hulle kon nie daardeur soveel geld verdien soos met regstreekse konserte nie.
  • ’n Kwart van al die deelnemers kan geensins tydens die staat van inperking voortgaan met enige aspek van hul werk nie.
  • Slegs 6% van die deelnemers wat mense in hul diens het, kan al hul werknemers betaal.
  • Slegs 21% kon noodfondse by die nasionale departement van sport, kuns en kultuur bekom, deels omdat die bedryf grootliks informeel is en formele dokumentasie, wat ’n voorwaarde vir noodfinansiering is, ontbreek.
  • 48% van die deelnemers het aangedui hulle voel negatief oor die toekoms en aanbieding van regstreekse konserte. 47% het gesê hulle is positief en 5% is nog onseker.

Die verslag volg op ’n vroeë ontleding deur Saco, wat in Mei verlede jaar beraam het dat die pandemie se impak op die hele kulturele en kreatiewe bedryf in Suid-Afrika die land se bruto binnelandse produk ’n nekslag van R99,7 miljard kan toedien.

Netwerk24 het reeds in die begindae van die staat van inperking in Maart verlede jaar berig hoe Suid-Afrikaanse sangers die finansiële impak van die pandemie aan hul sak voel en ’n ander rigting met hul loopbaan inslaan om die pot aan die kook te hou: Anna Davel het haar eie aanlyn kunswinkel geopen, Corlea Botha is sangonderwyseres, en die nuweling Emma Ellis verkoop onder meer maskers.

‘Ek het kinders vir wie ek moet sorg’

Die sanger Jak de Priester sê hy is ook weens die pandemie gedwing om sy loopbaan te herbedink – en dat hy en sy vrou, Michelle, eindelik besluit het om saam by die Chas Everitt-eiendomsgroep ’n loopbaan in die eiendomsmark na te jaag.

“Daar kom goeie dinge uit so ’n pandemie – ’n mens is kreatief – maar finansieel is ’n mens genoodsaak om in ’n ander rigting te dink,” sê hy.

“Vandat ek my eerste geld as sanger verdien het, het ek in eiendomme belê. Ek het in my (sang)loopbaan van 19 jaar 16 eiendomme gekoop, mooigemaak en weer verkoop, so eintlik het eiendomme my nog altyd gered. Ek het altyd gedink ek maak geld met sang, maar as dit nie vir die eiendomme was nie, was dit dalk moeilik.

“So vir my was dit ’n natuurlike proses om my loopbaan in eiendomme uit te brei.”

Ek het drie kinders, ek moet geld verdien. Ek het aan die einde van verlede jaar klein konserte gedoen, maar alles is nou vir die res van die jaar afgestel.
Jak de Priester

De Priester sê hy sal altyd ’n sanger-liedjieskrywer bly, dat hy nooit as musikant sal bedank nie, maar dat hy sy nuwe loopbaanskuif ter wille van sy gesin se welstand moes maak.

“Ek het drie kinders, ek moet geld verdien. Ek het aan die einde van verlede jaar klein konserte gedoen, maar alles is nou vir die res van die jaar afgestel. Ek leef op my spaargeld. Verder werk ek hard om eiendomme in die Stellenbosch-omgewing te kan lys sodat ek weer geld kan verdien.

“Dis hoe ek die pot aan die kook hou; verder is ek op my knieë. Dis, wat finansies aanbetref, nie tans ’n goeie tyd in my lewe nie, om eerlik te wees.

“Ek is in die middel van my lewe, so verandering is nou belangrik, ek moet die verandering nou maak. As dit net ek en my vrou was, was dit een ding, maar ek het drie kinders vir wie ek moet sorg.”

Corneille Hutten Foto: Xavier Saer

Ook Corneille Hutten, een helfte van die bekroonde kitaarduo CH2, sê hy is “lankal” nie meer net ’n musikant nie. Hutten het die ondernemings Coffee King, wat koffie verkoop, en CH Construction op die been gebring om te oorleef. Hy soek ook tans dringend na beleggers om ’n koffiewinkel in Pretoria-Oos te open.

Hutten sê hy het dié ondernemings begin omdat die musiekbedryf weens die pandemie “verkrummel” het.

“Ek sal in my hart áltyd ’n musikant bly, en Coffee King is bedoel om saam met CH2 iets nuuts na die mark te bring. Die musiekbedryf sal weer in die toekoms op sy voete kom, maar tot dan móét ek ’n ander inkomste genereer.

“Al wat dan sal gebeur is dat Coffee King en CH2 saam bedryf sal word sodat ek nóóit weer net op die musiekbedryf hoef staat te maak nie. Hierdie pandemie en hoe die regering dit tot dusver hanteer het, het vir my báie lesse geleer.”

Hutten sê hy is finansieel weens die pandemie “tot stilstand gebring” en dat hy vir maande aaneen nie ’n enkele sent verdien het nie. Hy het wel ’n nuwe album opgeneem en voor die einde van 2020 weer begin grond vat, maar die strenger vlak 3-maatreëls het hom en talle van sy medewerkers in die bedryf weer gekniehalter.

“Nou is alles weer afgestel. Géén kunstenaar kan dit vir so lank oorleef nie. Amper ’n jaar, nè?

“Musiekloopbane word nou vernietig en die musiekbedryf is letterlik op sy knieë – en natuurlik kry ons géén verdere ondersteuning van die regering nie. As hulle die maatreëls in plek wil stel, dan moet hulle ook ondersteuning bied!”

Hy sê hy is emosioneel op sy einde.

“Die staat van inperking is genoeg om ’n mens mal te maak, met geen uitlating vir jou kuns behalwe tussen jou eie mure nie. Partykeer voel ’n mens jy weet nie watter kant toe nie!

“Al wat ons kan vra, is dat die publiek ons asseblief met albumverkope ondersteun tot ons weer op die verhoog kan klim.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.