Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA musieklandskap nog ’n simfonieorkes ryker

Die Kaapse dirigent Xavier Cloete het saam met twee vennote, Chris Lodewyk en Walter Samuels, ’n reisende simfonieorkes gestig wat hulle hoop binnekort landwyd musiek gaan maak.

Xavier Cloete, dirigent van die Moederstad-orkes, het in 2013 die tweede Len van Zyl-dirigeerkompetisie gewen. Foto: Verskaf

Hoewel die Moederstad-orkes (MCO) in Kaapstad gesetel sal wees, sal sy anker gereeld gelig word om konserte dwarsoor Suid-Afrika aan te bied, veral in stede en dorpe waar orkeste nie aldag gehoor word nie.

Cloete sê daar is selfs al in dié beginstadium belangstelling vanuit Namibië om ook daar ’n musikale draai te kom maak.

“Die MCO gaan nie ’n ‘gewone’ orkes wees nie; die idee was nooit dat dit sy wortels in een stad moet skiet nie. Ons het ná intensiewe marknavorsing besef dat daar werklik ’n behoefte aan ’n reisende orkes is wat plekke buite groot stede in die land ook kan bedien – en net daar is die MCO gebore!

“Geen bestaande orkes het al so wyd getoer soos wat die MCO gaan nie.”

Cloete sê die idee vir die orkes kom eintlik al drie tot vier jaar aan, maar hy, Lodewyk en Samuels het ondanks die pandemie se nimmereindigende wipwarit besluit dat vanjaar die jaar is om die orkes ’n werklikheid te maak.

Die orkes is glo reeds as ’n private onderneming geregistreer, direkteurs is aangestel, en ’n direksie, wat “die inklusiewe aard van die orkes gaan weerspieël, sal binnekort volg.

Hulle hoop om tussen 32 en 36 heeltydse musici vir die orkes aan te stel, hoewel dit afhangend van die behoefte tot 60 lede kan groei.

“Al die orkeslede gaan heeltyds in diens geneem word en ’n salaris ontvang. Mediese fonds en ander byvoordele word tans nog onderhandel.

“Ons doel is om ’n groep professionele musici te hê wat die sekuriteit van ’n heeltydse betrekking kan geniet, en dít in ’n orkes wat hul aandeel in die sukses van die orkes sal koester en respekteer.”

Cloete sê ook die orkes se finansiële model sal ietwat anders lyk as ander orkeste s’n omdat dit as ’n kommersiële orkes sake sal doen.

“Die orkes sal privaat deur drie verskillende ondernemings befonds word. Ons gaan nie regeringsfondse of toelae by die Nasionale Lotery soek nie. Die publiek sal ons wel kan steun as hulle ‘Vriende van die MCO’ word, en nadat ons in Februarie ’n hoof van ontwikkeling aanstel, gaan ons ook korporatiewe borgskappe soek.

“Die MCO beplan nie om armoede te pleit nie. Ons doel is om die orkes vanuit die staanspoor as ’n volhoubare, onafhanklike orkes te vestig.”

Ons doel as ’n orkes sal wees om die grense van klassieke musiek as ’n geheel vir gehore van Kaapstad tot Johannesburg en Richardsbaai tot Doringbaai te verbreed, hetsy met ernstige of ligter musiek.
Xavier Cloete

Cloete, wat ook die orkes se musiekregisseur is, sê sy groot wens vir die orkes is om oraloor herken te word.

“My taak vir die volgende twee jaar is om die orkes te help om sy stem te vind, ’n stem wat eie aan die MCO is. Wanneer die orkes op die radio gehoor word, moet die luisteraar daartoe in staat wees om die orkes se unieke klank en styl te herken.

“Ons doel as ’n orkes sal wees om die grense van klassieke musiek as ’n geheel vir gehore van Kaapstad tot Johannesburg en Richardsbaai tot Doringbaai te verbreed, hetsy met ernstige of ligter musiek.

“Ons doel is om klassieke musiek in die vorm van orkesuitvoerings, operas en musiekspele na soveel as moontlik gehore in Suid-Afrika en later dalk ook die res van die vasteland te neem.”

Die orkes sal amptelik in die herfs bekend gestel word. Konserte, soos ’n Johann Strauss-gala, Mozart by Candlelight, Viva Verdi!, A Night at the Oscars, ’n Kersgala en ’n Nuwejaarskonsert, word ook beplan.

Cloete sê al dié konserte sal in lewende lywe aangebied word. Konserte sal in samewerking met die Encore-mediagroep aanlyn gestroom word, maar slegs indien regstreekse vertonings weens die staat van inperking verbied word.

Meer besonderhede sal mettertyd op www.mothercityorchestra.co.za bekend gemaak word. Musiekliefhebbers kan ook die orkes se Facebook-blad, www.facebook.com/mothercityorchestra, vir meer inligting dophou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.