Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA operaster glo op Franse lughawe in sel gestop

Die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende sê sy is “steeds geskok” nadat sy beweerde polisiegeweld op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, Frankryk, beleef het.

Pretty Yende het by dié foto van haarself op sosiale media geskryf dat sy op die Charles de Gaulle-lughawe in Frankryk in ’n aanhoudingsel gestop is. Foto: Facebook / Instagram

Yende het Dinsdag in ’n handvol inskrywings op Facebook en Instagram bekendgemaak dat sy Maandag deur doeanebeamptes voorgekeer is en hulle oënskynlik sonder enige rede beslag gelê het op al haar besittings, insluitende haar selfoon.

Die beamptes het haar na bewering beveel om op ’n stukkie papier die telefoonnommers van haar naaste familie en vriende – vermoedelik dié in Frankryk – neer te skryf.

Toe sy hulle vra of sy ’n gevangene is, het hulle “onbeskof” ja gesê, haar gevisenteer en haar in ’n aanhoudingsel in terminus 2B in die lughawe gestop.

“Dit was koud daar (in die aanhoudingsel),” sê sy in haar sosialemedia-inskrywings.

“Daar was aanvanklik geen lig nie. Dit was koud en grys en hulle het my alleen daar gelos met ’n landlyn-telefoon en die stukkie papier wat hulle vir my gegee het om die telefoonnommers op te skryf.”

Sy sê sy kon weens skok en trauma net die telefoonnommer van een persoon onthou. Dit is dié nog ongeïdentifiseerde persoon wat haar toe gehelp het om uiteindelik vrygelaat te word.

Hoewel sy sê sy nie “wreed ondervra en fisiek gemartel” is nie, het sy tog tydens die ervaring gedink dit is die einde van die pad vir haar.

“So baie negatiewe gedagtes het by my opgekom. Een daarvan: Hier is dit, die dag waarop ’n lyk aan my familie oorhandig sal word en niemand werklik sal weet wat regtig gebeur het nie.”

Dié gedagtes spruit uit polisiegeweld teen “mense wat lyk soos ek”, sê sy.

“Ek het nog altyd in die nuus daaroor gelees, en die meeste van my broers en susters word uiteindelik gemartel, sommige noodlottige gevalle word hoofopskrifte, en lyke verskyn onverwags saam met fopstories (om die ware rede vir hul dood te verbloem).

“Ek is een van die baie, baie gelukkiges wat nog leef en vandag kan beleef, ondanks die mishandeling en verregaande rassediskriminasie en sielkundige marteling en ongelooflik aanstootlike rasse-opmerkings in ’n land vir wie ek al so baie van my hart en voortreflikheid gegee het – en vir wie ek as ’n wettige internasionale burger op die wêreldverhoog steeds sal gee.”

Sy gaan daarom Dinsdagaand ondanks die voorval voort met ’n uitvoering van Bellini se La sonnambula in die Théâtre des Champs-Élysées in die Franse hoofstad.

Netwerk24 het na Yende uitgereik, maar sy het nog nie gereageer nie.

’n Woordvoerder van Groupe ADP, wat onder meer die Charles de Gaulle-lughawe bestuur, het aan Netwerk24 gesê hulle vra “eerstens om verskoning vir die voorval”. Hulle sal dit ondersoek, maar hulle kan nie belowe dat hulle vinnig meer besonderhede sal kry nie omdat doeanebeamptes in Frankryk werknemers van die Franse owerheid is – nie die lughawe self nie.

Die Franse ambassade in Suid-Afrika het aan Netwerk24 gesê hy is nie bewus van die voorval nie. Hy sal eers met die owerheid in Parys skakel om meer inligting daaroor te kry voordat hy kommentaar sal lewer.

Meer oor:  Facebook  |  Instagram  |  Pretty Yende  |  Charles De Gaulle-Lughawe  |  Musiek  |  Polisiegeweld  |  Opera  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.