Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA operasterre reis deur land om jong stemme te slyp
Die basbariton Emmanuel Maqoma lei sangers op ’n vorige slypskool op. Foto: Val Adamson

Vyf van Kaapstad Opera (KO) se blinkste sterre gaan 16 000 km in Suid-Afrika aflê om sangslypskole vir sowat 2 000 leerlinge aan te bied.

Hlengiwe Mkhwanazi (sopraan), Nonhlanhla Yende (mezzosopraan), Nkululeko Mqobongo (tenoor), en die basbaritonne Emmanuel Maqoma en Lesego Mkhwanazi het Vrydag met KO se 9de Jaarlikse Nasionale Skoletoer begin.

Hulle gaan in drie weke 80 skole in al nege die provinsies besoek en jong stemme slyp om hulle vir die nasionale ABC Motsepe Skoolkoor-eisteddfod voor te berei.

Die operasangers word deur die pianis Paul Ferreira en die toer se koördineerder, Masixole Makwetu, vergesel.

(Hlengiwe) Mkhwanazi, wat in die verlede ook aan die toer deelgeneem het, sê dit is vir haar ’n riem onder die hart om te sien hoe kinders met die regte opleiding die selfvertroue kry om die voorgeskrewe musiek te sing.

“My werk as onderwyseres is om te verseker dat hulle die musiek verstaan, om dit vir hulle vermaaklik te maak, en om hulle te kry om met hul jong en natuurlike stemme te sing – nie om ’n ander sanger wat hulle op YouTube gehoor het, na te maak nie,” sê sy.

“Ek doen dit omdat ek voel die kinders én hul onderwysers het ’n professionele persoon nodig wat weet hoe dit (sangopleiding) gedoen moet word.

“Wanneer die musiek (vir die eisteddfod) voorgeskryf word, besef niemand werklik dat hierdie jong mans en vroue nog nooit sanglesse of opleiding in vreemde tale ontvang het nie .”

Mkhwanazi sê sy leer self baie deur die ondervinding, veral oor hoe baie sy onderwys geniet. Sy sê dit het haar gemotiveer om in die nabye toekoms haar eie sangakademie te begin.

Die operasangers gaan ’n draai maak by skole in Johannesburg, Polokwane, Emalahleni, Klerksdorp, Potchefstroom, Newcastle, Durban, Oos-Londen, Queenstown, Welkom, Kimberley, George, Khayelitsha en Kaapstad.

Die slypskole wat hulle gratis aan leerlinge bied, word deur KO, die Kaapstad-metro, die Nasionale Lotery-kommissie, RMB, die MariaMarina-stigting en die Engelse liefdadigheidsorganisasie UK Friends of Cape Town Opera moontlik gemaak.

Enigiemand wat meer inligting oor die slypskole wil hê, kan ’n e-pos aan Lesley Liddle na lesleyl@capetownopera.co.za stuur.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.